‘n Keuse in Adventtyd – Cecile Cilliers

In die Andrew Murray-gemeente in Johannesburg was dit gebruiklik om een keer ‘n jaar, teen die einde van die jaar, die jong kategete die geleentheid te gee om die erediens waar te neem. Daardie oggend het hulle alles gedoen, die afkondigings, die gebede, die kollekte, tot die preek.

Op die gegewe oggend, toe dit preektyd word, het vier jong mense in die ruimte voor die preekstoel, agter vier mikrofone stelling ingeneem. Oorkant hulle, op ‘n klein verhogie, was daar nog twee mikrofone, ‘n seun en ‘n meisie daaragter. En toe begin die vier hier voor saam te lees, uit die dagblaaie voor te lees.

Eers ruis hulle stemme saam, word mettertyd al harder, duideliker; wat eers net ‘n woordelose geroesemoes skyn te wees, begin vorm aanneem, totdat die vreesaanjaende woorde van die nuusberigte van ons elke dag se lewe herkenbaar word: moord, roof, kapings, verkragting, korrupsie, armoede, vrees – in die stemme van die jong mense dreun ‘n litanie van verskrikking deur die kerk.

En toe begin die meisie op die podiumpie te lees. En wat sy lees is Jesaja 35, daardie gloeiende belofte van God se redding : Die woestyn, die dor land, sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille… En namate haar stem sterker word, klink die profeet se digterlike beelde bo die rampgebrom van die ander vier stemme uit, hoor ons die belofte wat in Jesus se woorde aan Johannes vervul sal word : Blindes sal kan sien, dowes sal kan hoor, lammes sal kan rondspring soos takbokke, stommes sal kan sing…

En toe sy triomfantelik die hoofstuk klaarmaak met die ontroerende stelling …ellende en smart sal verdwyn…toe is die ander vier stemme stil, tjoepstil. En in die ruisende stilte in die kerk kom die stem van die seun langs haar met die oerbekende woorde van Jesaja 9 :

Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee…

Dit het my opgeval in die kerk dié dag, hoeveel lewegewende kreatiwiteit daar loskom ook en veral by die jeug, as hulle net die geleentheid gegee word, hulle toegelaat word om op hulle eie, spontane manier hulle geloof te lewe.

Maar dit is nie die boodskap nie. Wat ons daardie oggend uit die preek wys geword het, is dat gelowiges altyd ‘n keuse het, veral nou, in die Adventtyd. Ons kan handewringend bly seur, bly tob, oor die (weliswaar) kommerwekkende landstoestande, of ons kan ons blikhoek verander, op ‘n ander manier begin kyk, in die vaste wete dat die koms van Christus alles vir altyd verander het.

Juigend, vol vreugde en blydskap kan ons op God se grootpad, op sy gewyde pad, deur die woestyn van hierdie wêreld loop.

Mag dit vir ons almal in hierdie Adventtyd waar word.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s