Om sin te maak van (Cornelius se) siekte

Stéphan en Carina van der Watt het vroeër vanjaar na Tokushima in Japan verhuis waar hulle deel vorm van Missie Japan as sendelinge. Misie Japan is ’n gesamentlike sendingaksie van die NG Kerkfamilie, en werk ten nouste saam met hulle susterkerk, die Reformed Church in Japan. Dit is ’n vrywillige geloofaksie waartoe sinodes, gemeentes, groepe en individue finansieel bydra en meewerk.

Kort na hul aankoms daar, is hulle seuntjie, Cornelius, op 9 Junie gebore. Kort daarna het Stephan in ’n nuusbrief laat weet: “Oor die klein bondeltjie skepping (50cm lank en 3.7kg swaar), is ons in stil verwondering voor die misterie van ons Skepper. Dit is Hy wat die asem en vonk van Lewe verskaf en deur wie ons leef, beweeg en bestaan (Hand. 17) … Sy Gees is nog soveel ligjare meer as die “naelstring” van ons wese. Wat ‘n wonderlike wete dat Hy selfs vir Cornelius voor sy geboorte aanmekaar geweef (Ps. 139) en op sy naam genoem het (Jes. 49).”

Cornelius is intussen egter met Hyperammonemia gediagnoseer, en in hierdie oordenking skryf Carina vir ons oor hoe “Om sin te maak van (Cornelius se) siekte”.

Om meer oor Missie Japan te lees, kan julle die webwerf besoek by http://www.missiojapan.org.za/ . Maak ook met hulle kontak deur die webblad, of stuur aan ons ‘n e-pos wat ons vir hulle sal aanstuur.

Dankie Carina dat jy dit met ons deel!

OM SIN TE MAAK VAN (CORNELIUS SE) SIEKTE…

Ek wou al baie lankal my ervaringe/gevoelens van Cornelius se siekte neerskryf. Maar elke dag hardloop weg met my – tyd, stilte en vrede is kosbare kommoditeite hier in ons huis. Ek het gevoel ek moet egter hierdie stukkie ervaring deel – net sodat ek self ook meer helderheid kan kry oor alles en ook omdat ekself so maklik vergeet en dan weer verval in my groef. (Ek wil net noem dat ek nog altyd geneig was en is om met ‘gereserveerdheid’ na sommige emosionele geloofservaringe te kyk. Ek is krities en hel oor na rasionele beredenering van alles. Maar wanneer iets gebeur met die wat naaste aan jou hart is, is daar beperkinge aan ‘n slegs logiese, kritiese uitkyk. Ek word dan gekonfronteer met op die been emosies en ook besluite oor my eie lewe/gedagtes/optredes. Wat help die koue rede dan? )

Na 6 weke van intense ontroosbare huil het ek soos ‘n absolute mislukking gevoel as ma. Ek kon nie eers my eie kind (my tweede kind en dus is ek seker nie heeltemal onervare nie) troos nie. Ons het gedink dis seker die ergste graad van koliek wat daar is. En tog het daar heeltyd ‘n onsekerheid aan my geknaag. Op my pa se aandrang is ons pediater toe en ek het maar redelik soos ‘n onbekwame ma gevoel wat kla by haar dokter dat haar kind huil! Natuurlik huil kinders, het die dokter seker gedink! Vir sy 4 weke ondersoek het ‘n ander pediater hom ondersoek en nadat ek weer genoem het van sy erg huilery het sy maar net haar skouers opgetrek en gesê "seuntjies is geneig tot huil!" Ek was redelik vasgevang in die huis, want sy huilery was so erg dat ek nêrens heen kon gaan nie. Ek was in elk geval te moeg om iets te doen. Al hoe hy geslaap het was bo-op ons lywe in die nag en in die dag het ek hom ure rondgedra om sy huilery te probeer verminder (maar selfs aan my lyf het hy geskreeu – ek was bang die bure dink ons is besig met mishandeling!). Maar na twee weke is ons weer terug dokter toe, en net om alle moontlikhede te ondersoek is ons gestuur vir bloedtoetse. Groot was my verrassing en skok dat daar werklik iets ernstig verkeerd is met Cornelius. Hyperammonemia! Op die ‘wrede’ internet is die siekte as baie baie gevaarlik beskryf met moontlike koma, konvulsies en dood. Gaan my 6 weke oue seuntjie sterf? My hart het oneindig dood en swaar gevoel en ek kon nie ophou huil nie. Dit was ‘n onuithoudbare gedagte!

Ek het nog nooit swaarky ontken nie. Ek weet dit is absoluut deel van die lewe en ek was verbaas dat my lewe so sonder enige werklike pyn blyk te wees. Maar noudat die moontlikheid van verlies oor my pad gekom het, wou ek stry daarteen. EK WIL NIE SWAARKRY NIE. EK WIL NIE VIR CORNELIUS VERLOOR NIE!!! EK WIL NIE HIERDIE TIPE VERLIES ERVAAR NIE!!! HOEKOM, HOEKOM, HOEKOM!!

Ek dink nie daar is werklik waar ‘n goeie sinvolle antwoord vir swaarkry/lyding/verlies nie. Maar wat ek wel in hierdie tyd ervaar het en steeds ervaar is die volgende:

God se seën – en daarmee bedoel ek dat ek werklik God se teenwoordigheid op ‘n baie fisieke manier ervaar het. Sy troos. Sy woorde van trou en van leiding. (Ek is besig met dagstukkies van Peggy Verwey in haar boek "The Lame Take the Prey" (Neil en Peggy Verwey is van Japan Sending en het ná die tweede wêreldoorlog hiernatoe gekom as sendelinge). En in hierdie tyd van onsekerheid en emosionele spanning en vrees het God elke dag so duidelik met my gepraat deur Peggy Verwey se boek. Ek wens ek kon nou alles hier neerskryf. Dit was nie woorde van beloofde heling of uitkoms nie…juis nie. Maar dit was woorde van troos, genade, ondersteuning en God se liefde vir ons in ons swaarkry.

My pa het genoem dat hierdie krisis ons dwing om net geloofsgedagtes te dink. En geloofsgedagtes beteken positiewe gedagtes, ‘n biddende houding en alles ten volle oorgegee aan God te midde van wat die uitkoms ookal sal wees. Soos wat Abraham ook bereid was om vir Isak te offer, al was dit sy enigste seun vir wie hy baie lief was.

Ek het vir die eerste keer ware gemeenskap van gelowiges ervaar. Soveel mense het met soveel medelye en empatie ons gekontak en genoem dat hulle vir ons bid. Vriende wat ons oorval het met hul liefde en omgee. Dis sekerlik die Christelike gemeenskap van liefde wat Christus voorsien het.

Ek het besef dat swaarkry volharding kweek…en daarmee saam ‘n geloof en ‘n intieme verhouding met Christus wat onuitblusbare hoop skenk.

Ek dink dis moontlik net swaarkry/lyding/verlies wat ‘n mens sodanig verander om met deurleefde empatie na ander te kan uitreik. Om nie net selfsugtig op jou eie klein lewetjie te fokus nie. Om ons afhanklikheid (ware afhanklikheid en vertroue) van God te besef. Ek het in hierdie tyd ervaar dat juis mense wat self lyding /verlies ervaar het, ook die grootste (en miskien meer “geldige”) getuienis van God se liefde, teenwoordigheid en troos is.

Ek het altyd gedink die Israeliete was darem maar bra simpel om keer op keer hul rug te draai op God nadat hulle sulke klinkklare bewyse van Sy sorg en bestaan ervaar het…En dan moes hulle weereens deur lyding gaan voordat hulle God erken het. Nou besef ek dit is werklik in ons aard om weg te draai van God en op onsself te fokus. Het ons miskien lyding en swaakry nodig? Filippense 3: 10? ("Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding, deur aan Hom gelyk te word in sy dood…").

Inaggenome dat die wereld waarin ons lewe oortrek is van lyding, dood, verlies, pyn en fisiese nood, hoeveel te meer is ons deurleefde empatie en uitreik na ander in die naam van Christus nie belangrik nie … eerder as om te fokus op onsself?! Hoeveel te meer het ons nie nodig om gebreidel te word om te volhard en die hoop van Christus se liefde te verkondig nie? Te midde van ons eie lyding…juis as gevolg van ons eie lyding.

Carina

Foto: http://www6.ocn.ne.jp/~nkktk/bokusi_e.htm

vanderwat4

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s