OOR GAY WEES (HOOFSTUK 5) – HOMOFOBIE EN STEREOTIPE WANOPVATTINGS

OOR GAY WEES

Jean du Plessis

HOMOFOBIE EN STEREOTIPE WANOPVATTINGS

Diskriminasie ontstaan uit gevoelens van meerder- en minderwaardigheid. Alhoewel diskrimineerders hulleself as meerderwaardig beskou, voel hulle nogtans bedreig deur die mense teenoor wie hulle diskrimineer. Hierdie reaksies is so oud soos die mensdom self. Die Romeine het die Christene uitgeroei; die Katolieke die Protestante; Hitler die Jode. So was daar die Amerikaners se jagpartye teen die Indiane, die uitwissing van die Australiese inboorlinge, ons eie Suid-Afrikaanse geskiedenis van apartheid; en die diskriminasie teen gestremdes en gays.

Die meeste van ons het in ’n samelewing grootgeword waarin daar nie veel erkenning gegee is aan die diversiteit van die menslike natuur nie. In die grootwordproses is ons eerder in die rigting van eendersheid van gedrag en denke geforseer. Enigiets wat aan die aanvaarde sosiale norms afwyk, word met agterdog beskou of verwerp. Vrees vir die onbekende is ’n algemene lewensbeginsel. In The Merchant of Venice het Shakespeare gesê: “Whom we fear we wish to perish” en in Twelth Night “There is no darkness but ignorance”. Uit die duisternis van onkunde groei ongegronde vrese en diskriminasie. Homofobie is ’n irrasionele vrees vir homoseksualiteit, wat tot uiting kom in negatiewe emosies en lei tot diskriminerende gedrag.

Vanuit ’n Jungiaanse perspektief word homofobie as volg verklaar: Seuns word grootgemaak met rigiede idees oor manlikheid, bv. mans onderdruk hulle gevoelens en moet alle tekens van sagtheid of vroulikheid uitwis. Daardie dele van onsself wat ons amputeer of onderdruk, word ons skaduweekant. Om jouself van jou skaduwee, waarmee jy ongemaklik voel, vry te maak, projekteer ons dit op ander van dieselfde geslag. Ons sien dus in hulle dit wat ons nie in onsself van hou nie. So word emosies en erotiek wat onderdruk word, op homoseksuele geprojekteer en raak heteroseksuele mans soms behep met gays. Hierdie kombinasie van vrees en fasinering lei daartoe dat hulle, ten spyte van feite of statistiek, steeds glo aan die wanpersepsies, bv. dat gays potensiële kindermolesteerders is. In werklikheid is verreweg die meeste kindermolesteerders juis gefrustreerde, heteroseksuele swakkelinge (Corneau, 1991)

Homofobie word deur gay mense geïnternaliseer, of op hulself van toepassing gemaak, sodat dit lei tot ’n gevoel van skaamte en selfhaat. Wanneer ’n mens grootgemaak word met die idee dat dit ’n skande is om gay te wees en dat gay mense minderwaardig is, sal jy self ook skaam en minderwaardig voel wanneer jy jou eie gay identiteit ontdek. Brian McNaught, bekende Amerikaanse joernalis, terapeut, seksopvoeder en konsultant vir die National Council of Churches, het met betrekking tot homoseksuele mense gesê: “Before we can begin to love ourselves, which I believe is crucial for sound mental health and total union with God, we have to root out the negative stereotypes with which we were raised, and begin to build positive self-images.”

Solank soos homofobie in ons samelewing heers, sal dit vir gay mense baie moeilik bly om ‘n positiewe selfbeeld te ontwikkel. Baie gay seuns en dogters word groot in gesinsituasies waar dinge gesê word soos: “As een van my kinders so moet wees, moet hy sy goed vat en nooit weer sy voete oor hierdie drumpel sit nie.” Baie ouers het al dinge gesê soos: “Dit sou vir my makliker gewees het as my kind dood was.” Tuis en op skool word “moffie-grappe” vertel of neerhalende aanmerkings oor gays gemaak. Baie seuns word groot met ’n pa wat by die geringste teken van wat die pa as ’n swakheid sien, vir hulle sê: “moenie ’n moffie wees nie.” In daardie stadium het die kind dalk nog geen idee van wat dit beteken nie; hy weet net dat dit iets is wat lelik of onaanvaarbaar is. Hierdie dinge steek soos dolke in die hart van die gay tiener wat desperaat probeer om ’n gesonde selfbeeld te ontwikkel. Dit lei tot groter geheimhouding en ’n meer akute vrees vir blootstelling en verwerping.

Reiche & Dannecker (1977) het gevind dat ’n vyfde van die homoseksuele mans in hulle studie reeds voor hulle dertiende jaar en twee derdes voor sestien jaar bewus was van hul seksuele oriëntasie. Ongelukkig is daar gewoonlik vir jongmense met hierdie oriëntasie geen rolmodelle in die samelewing nie. Hulle word groot in ’n situasie waar hul net blootgestel word aan die stereotipe beeld wat voorgehou word van “moffies” en “queers” wat veronderstel is on verwyfde, immorele mense te wees, wie se lewens slegs op ’n ramp kan afstuur. Omdat hulle grootgemaak word om sulke mense te verafsku, is dit vir hulle nog moeiliker om sulke neigings in hulself te aanvaar sonder om ook hulself te verafsku. Dit laat gay jongmense met ’n gevoel van isolasie en verwerping. Die mense wat werklik kan verstaan en bystand bied in die proses van selfaanvaarding en die vind van ’n persoonlike moraliteit, is gewoonlik ter wille van hul eie oorlewing te bang om betrokke te raak. Ten spyte van die nuwe konstitusie is homofobie nog steeds so algemeen in ons samelewing dat ’n gay onderwyser sy werk kan verloor indien sy geheim uitlek – om van ’n gay predikant nie eers te praat nie.

Een van die grootste wanopvattings wat deel uitmaak van die stereotipe beeld van homoseksuele mense, is die opvatting dat hulle pedofiele is en ’n gevaar inhou vir kinders. Daar is reeds soveel wetenskaplike bewyse dat pedofilie en homoseksualiteit totaal verskillende dinge is, maar hierdie wanopvatting bly voortbestaan.

In werklikheid is die oorweldigende meerderheid pedofiele heteroseksueel. Polisieopnames met betrekking tot arrestasies vir seksuele misdrywe met kinders, dui daarop dat by meer as 90% van hierdie misdade jong dogters en volwasse heteroseksuele mans betrokke is. Die oortreders is dikwels heteroseksuele vaders wat hulle eie dogter molesteer. Laasgenoemde feit word nie verdraai tot die stelling dat alle heteroseksuele mans potensiële kindermolesteerders is nie! Dit sou absurd gewees het om so ’n afleiding te maak. Nogtans word die samelewing maklik deur homofobe en homofobiese joernalistiek mislei om te glo dat gay mans en lesbiese vroue potensiële kindermolesteerders is. Gay mans en vroue keur kindermolestering net so sterk af as die breër gemeenskap.

’n Ander bevinding van hierdie opnames is dat die meeste van die mans wat betrokke raak by seksuele misdrywe met seuns, nie hulself as homoseksueel identifiseer nie. Baie van hulle is voorheen reeds gearresteer vir die molestering van dogters en die meerderheid het volwasse seksuele verhoudings met vroue eerder as met mans. Terwyl gay mans aangetrokke voel tot die manlikheid van die volwasse manlike liggaam, is dit juis die sagtheid en “vroulikheid” van jong seuns wat vir sommige seksueel wanaangepaste, oorwegend heteroseksuele mans aanloklik is. Sommige pedofiele stel uitsluitlik seksueel in kinders belang, ongeag van die geslag van die kinders. Kindermolesteerders is selde homoseksueel.

Benewens realistiese inligting oor homoseksualiteit, behoort seksvoorligtingsprogramme wat in skole aangebied word, ook aandag te gee aan sake soos transseksualiteit, transvestisme en ander verskynsels wat dikwels met homoseksualiteit verwar word. Baie transvestiste is heteroseksuele mans wat by geleentheid vroueklere en grimering dra. Die res van die tyd gaan hulle blykbaar normaal voort met die rolle van eggenoot en vader. Net soos hierdie mans (en soms vroue in mansklere) ’n baie klein persentasie van die heteroseksuele samelewing uitmaak, is die enkele gay mans wat soms vroueklere en grimering dra (drag queens) of gay vrouens wat in mansklere rondloop, ’n ewe klein persentasie van die homoseksuele bevolking.

Die meeste gay mans beleef hulleself as mans en het geen begeerte om vrouens te wees nie. Dieselfde geld vir die meeste lesbiese meisies – hulle identiteit is vroulik en alhoewel hulle tot ander vroue aangetrokke voel, het hulle geen begeerte om mans te wees nie. By transseksualisme is daar egter ’n diepgaande begeerte om van geslag te verander. Die transseksuele mens voel hom of haar ontuis in ’n liggaam van die “verkeerde” geslag. ’n Transseksuele man se gevoelslewe is dié van ’n vrou wat vasgevang is in die liggaam van ’n man. Dit is ’n ongelukkige toestand wat lei tot geweldige sosiale aanpassingsprobleme. Geslagsveranderingsoperasies kom deesdae meer algemeen voor, maar die sosiale aanpassing, selfs ná die operasie, kan soms problematies wees.

“Hermafrodiet” beteken tweeslagtig en word gebruik vir mense wat met die biologiese geslagskenmerke van albei geslagte gebore word of by geboorte van twyfelagtige geslagsdifferensiasie is. Dit is ’n liggaamlike toestand en hou nie verband met biseksualiteit, wat ’n vorm van seksuele oriëntasie is nie.

Selfs in die mediese wêreld en by onderwysers, predikante en ander maatskaplike leiers heers daar grootskaalse onkunde oor hierdie onderwerpe. Afgesien van jongmense wat dalk op hierdie gebiede probleme kan ondervind, is dit die verantwoordelikheid van opvoeders en maatskaplike leiers om by die res van die gemeenskap beter begrip en waar nodig, verdraagsaamheid te bewerkstellig.

Homoseksuele mans en vroue se seksuele aktiwiteite verskil nie veel van dié van heteroseksuele nie. Hulle ervaar dieselfde mate van seksuele opwinding deur die fisieke nabyheid van die seksgenoot se liggaam. Daar is dieselfde vorms van aanraking en wedersydse stimulering wat lei tot orgasme. Dit kan gesamentlike masturbasie, orale, vaginale of anale seks insluit, afhangende van persoonlike voorkeur. Lesbiese vroue maak soms gebruik van kunsmatige fallusse om vaginale stimulering te kry, maar dieselfde hulpmiddels word ook deur heteroseksuele paartjies gebruik. Anale penetrasie, of sodomie, vind eweneens in heteroseksuele situasies plaas. Aan die ander kant is daar baie homoseksuele mans wat daar geen plesier in vind nie en ander vorms van stimulering verkies. Daar hoef nie noodwendig enige vorm van penetrasie te wees om seksueel bevredig te word nie. Solank albei partye geniet wat hulle doen en niemand in die proses beseer of benadeel word nie, is daar geen reg of verkeerd in terme van sekstegnieke nie. Daar is niks vreemds of “siek” aan die dinge wat gay mans en vroue in die bed doen nie.

Manlike en vroulike is ’n groot mate subjektiewe begrippe. Mans met tradisioneel meer vroulike belangstellings en “tomboy” meisies is nie noodwendig gay nie. Net so min soos daar ’n stereotipe heteroseksueel is, is daar ’n stereotipe homoseksueel. Hulle kan net sowel eerstespan-rugbyspelers, atlete, loodgieters, vragmotorbestuurders, haarkappers, dokters, onderwysers of kunstenaars wees. Rock Hudson het nie slap gewrigte, geaffekteerde spraak en verwyfde maniertjies gehad nie. Volgens Ernst Conradie, voormalige hoof van die Buro vir Studentevoorligting by die Universiteit van Stellenbosch (Perspektiewe op homoseksualiteit, 1980), verskil homoseksuele van heteroseksuele net in die keuse van die liefdesobjek en hoegenaamd nie in die kwaliteit en intensiteit van hulle gevoelens van liefde vir mekaar nie. Die meeste gay mense is doodgewone, normale mense met gewone, normale behoeftes en ideale in die lewe.

Wanneer dit by minderheidsgroepe kom, is daar ’n neiging om hoofsaaklik op die verskille te konsentreer. In werklikheid is seksualiteit, hoewel belangrik, maar een aspek van menswees. Daar behoort meer klem gelê te word op die ooreenkomste tussen mense met verskillende oriëntasies. Basie het almal dieselfde behoefte aan kameraadskap, aanvaarding en liefde, al vind hulle dit langs verskillende weë. Die een groep hoef nie vir die ander ’n bedreiging in te hou nie.

Hoewel die nuwe konstitusie van die RSA diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie uitskakel, is van die diskriminerende wette m.b.t. homoseksuele gedrag steeds op die wetboeke. Tot diep in 1998 was sodomie steeds ’n kriminele oortreding, selfs wanneer dit tussen volwassenes en met wedersydse goedkeuring plaasvind. Die ouderdom waarop mans tot seksuele omgang met ’n man mag instem, is negentien jaar, terwyl meisies op sestien jaar kan instem tot heteroseksuele omgang. Laasgenoemde wetgewing was waarskynlik ’n poging om romanses in die weermag te probeer voorkom. Al het die konstitusie verander, sal die spesifieke wette eers van die wetboek verwyder word wanneer dit suksesvol in toetssake in die hof betwis is. Dit is een van die doelstellings van die National Coalition for Gay and Lesbian Equality. Deur hulle toedoen is die sodomiewette in Oktober 1998 van die wetboek geskrap. Gevestigde opvattings in die samelewing neem soms nog langer om te verander as die wysiging van die wette”.

Gay mense is in die eerste plek mense – goeies en slegtes net soos heteroseksuele. Dit sal vir die samelewing al duidelik word wanneer meer gay mense bereid word om hulleself volledig as indiwidue te laat ken. Solank soos ordentlike en verantwoordelike gay mense voortgaan om hulle seksuele oriëntasie geheim te hou, sal die samelewing bly vasklou aan stereotipe wanopvattings.

Die rolprentbedryf het gelukkig begin wegbeweeg van die stereotipe weergawe van verwyfde, wanaangepaste gay karakters wat slegs as komiese of tragiese figure gebruik is. Tot in die vroeë 1960’s was die enigste gay karakters in rolprente “in die kas” en voorgestel as “sissierige” of verwyfde mans, of as “butch”, mansagtige vrouens. Daarna volg ’n periode waarin gay karakters wel voorkom, maar gewoonlik as die slagoffers van geweld of spot, óf as asosiaal of antisosiaal. Gay karakters in films is dikwels vermoor, of het selfmoord gepleeg. Die ou rolprente soos The boys in the Band het aanvanklik groot opgewondenheid gebring. Dit het ten minste baie geïsoleerde gay mense laat voel hulle is nie alleen nie – daar ís nog mense soos hulle. As ’n mens dit vandag weer sien, besef jy hoeveel selfverwerping en selfhaat daarin uitgebeeld is. Die geweldige geïnternaliseerde homofobie wat gay mense se selfagting afbreek, kom dan duidelik na vore. Rolprente soos Philadelphia, The Priest, The Sum of Us, Jeffrey en Beautiful Thing in die 1990’s, het begin om homoseksuele as gewone, volledige en sosiaal verantwoordelike mense uit te beeld. Ongelukkig het ons plaaslike sepies nog nie tot op daardie vlak gevorder nie.

Homoseksualiteit word voortdurend in dieselfde asem genoem as prostitusie en seksueel promiskue gedrag. Die beeld word geskep dat gays gedurig op soek is na seksuele opwinding en nie eintlik morele waardes het nie. In werklikheid is daar baie gay mans en vroue wat nie promisku lewe nie en hou by langtermyn monogame verhoudings wat gebaseer is op dieselfde liefde, toewyding, kameraadskap en respek as ’n goeie huwelik. Dit kan moeiliker wees vir ’n gay paar as vir ’n heteroseksuele paar om gelukkige en produktiewe lewens te lei in ’n samelewing wat glo dat homoseksualiteit siek of sondig is, of ten beste, dat die aard van die verhouding geheim gehou behoort te word. Nogtans is daar baie gay mans en vroue wat hierin slaag. In heteroseksuele kringe word hierdie verhoudings dikwels beskou as dié van goeie vriende of van mense wat om praktiese redes huise of woonstelle deel.

Daar bestaan nog heelwat onversoenbare opvattings oor seksuele oriëntasie. In Engeland is die debat oor die aanvaarbaarheid van gay parlementslede weer in 1995 op die spits gedryf met die stryd tussen John Major en John Redwood. Laasgenoemde het te kenne gegee dat gay parlementslede vir hom heeltemal aanvaarbaar sou wees indien hulle eerlik omtrent hulle seksuele oriëntasie is. Afgesien van die feit dat ’n parlementslid wat reeds openlik gay is, nie die slagoffer van afpersing kan word nie, het Redwood hopelik ook insig in die kernaspek van die diskriminasie teen gays. Homofobie dwing gays tot deelname aan die sameswering van geheimhouding ter wille van hulle ekonomiese, sosiale en emosionele voorbestaan. Van gays word verwag om te huigel en hulle ei bestaan te ontken omdat dit heteroseksuele ongemaklik of bedreig laat voel.

Ten tyde van die Redwood-Major-debat was die saak van luitenant Liz Campion in die Britse vloot ook aan die gang. Ná jare van getroue diens het sy opdrag ontvang om alle bewerings te ontken dat sy lesbies is, of outomatiese ontslag uit die vloot te aanvaar. Daar is dus, ironies genoeg, in dieselfde Engeland van Major en Redwood, van haar vereis om oneerlik te wees om aanvaarbaar te wees. Campion het egter die integriteit gehad om te weier om te lieg. Sodoende het sy wel haar loopbaan verongeluk, maar die aandag van die samelewing opnuut gevestig op die dubbele standaarde en die korruptheid van die stelsel. In die Engelse weermag, anders as in dié van die ander Navo-lande, word homoseksualiteit beskou as “nie versoenbaar met militêre diens nie”. Mense soos Duncan Lustig-Dean, voormalige luitenant-kommandeur in die Britse vloot, word dus ten spyte van positiewe personeelverslae, summier afgedank indien hul seksuele oriëntasie bekend raak. Engeland is in hierdie opsig dus nog waar die VSA in 1975 was toe Leonard Matlovich uit die lugmag ontslaan is toe sy gay verhouding op die lappe gekom het. Matlovich het destyds gesê: “They gave me a medal for killing two men and a discharge for loving one.”

Nader aan die tuisfront het Robert Mugabe se tirade teen gays in Zimbabwe die vraag laat ontstaan waarom hy so ‘n onverbiddelike en verdoemende standpunt innee. In 1995 het die organisasie Gays & Lesbians of Zimbabwe (GALZ) probeer om ’n stalletjie by die internasionale boekuitstalling in Harare te kry. Mugabe het dit verbied en toe die saak in die hof betwis is, is die betrokke uitstalling deur ’n woedende bende verbrand en verwoes. Volgens Mugabe is gays erger as varke, hulle gedra is “sub-animal” en hulle het geen aanspraak op enige regte nie. Hierdie homofobiese uitlatings getuig nie alleen van onverskoonbare onkunde nie, maar skep ook nie huis die indruk van Christelike liefde en verdraagsaamheid wat van ’n voormalige kerkleier verwag sou kon word nie. Die blatante diskriminasie teen gays in Zimbabwe het plaaslik en internasionaal gelei tot openbare protes. Teenstrydig met Mugabe se bedoeling, het die insident weer die aandag gevestig op die minagting van die menseregte in Zimbabwe. Die situasie in Zimbabwe het nog ’n verdere dimensie gekry met al die aantygings van seksuele molestering van talle mans teen die vorige president, Canaan Banana, ingedien het.

Vigs het gelei tot ’n oplewing van homofobie omdat dit heel eerste in die gay gemeenskap van San Francisco uitgebreek het. Die eerste vigsgeval wat wye publisiteit gekry het, was ’n gay vlugkelner met ’n geskiedenis van veelvuldige seksuele verhoudings. Aangesien die meeste van sy seksmaats promiskue gay mans was, het die siekte veral in daardie deel van die gay gemeenskap begin versprei. Onverantwoordelike en soms gewetenlose joernaliste het, deur te praat van die “Gay Plaag”, die vuur verder aangejaag. Hoewel daar steeds ’n hoë voorkoms van vigs in die manlike gay gemeenskap is, het dit groter afmetings in die heteroseksuele gemeenskap begin aanneem. Daar word min erkenning gegee aan die groot diens wat die gay gemeenskap steeds wêreldwyd ten opsigte van hierdie probleem lewer. Grootskaalse fondsinsamelings vir versorgingsdienste, navorsing en voorkomende opvoedkundige programme is deur gay gemeenskappe in baie lande geloods.

Navorsing in Pennsilvanië en ander meningsopname het getoon dat die meeste Amerikaners glo dat gays meer diskriminasie as enige ander groep ervaar. Nogtans is daar min gedokumenteerde gevalle omdat min van hierdie mense kan waag om hulle besware openbaar te maak. Daar is te veel om te verloor in die proses en dus word diskriminasie gewoonlik stilswyend aanvaar.

Ongelukkig word homoseksualiteit onmiddellik met seks in verband gebring. Dit het niks meer of minder met seks te doen as heteroseksualiteit nie. Nogtans word dit in “gemengde” geselskap as swak smaak of ekshibisionisme beskou om daaroor te praat of om openlik tekens van toegeneentheid te wys. Heteroseksuele gesels voortdurend oor hulle amoreuse eskapades en wie hulle almal “sexy” vind. Hulle omhels en soen in die openbaar en bring as vanselfsprekend hul huweliksmaats na werksfunksies. Van homoseksuele word verwag om hulle gesprekke, spontane reaksies en gedra gedurig te sensor op maniere wat vir heteroseksuele totaal onaanvaarbaar sal wees.

Die Britse dramaskrywer John Osborne, wat in 1994 op die ouderdom van 65 oorlede is, was so bang dat sy eie gay geskiedenis op die lappe sou kom dat hy homoseksualiteit voortdurend in die openbaar afgekraak het. Hy was vyf keer getroud (om homself of die wêreld om die bos te probeer lei?) en eers ná sy dood het sy jarelange liefdesverhouding met sy mede akteur Anthony Creighton bekend geword. Eers ná sy aftrede het dr. Howard Brown, die hoof van die stad New York se geneeskundige diens en skrywer van Familiar Faces, Hidden Lives, as gay identiteit en sy jarelange verhouding bekend gemaak. Uit vrees dat openbaarmaking die einde van sy loopbaan kon beteken, kon Brown baie hoogtepunte van sy lewe nie deel met die man wat hy liefgehad het en wat hom deur al die moeilike tye ondersteun het nie.

Homofobie verarm die lewens van, veral, baie mans. Vroue het meer dikwels hegte vriendskappe met ander vroue, maar homofobie weerhou mans van intimiteit in hul vriendskappe met ander mans. Die feit dat homofobiese reaksies veel meer algemeen onder mans as onder vroue voorkom, kan ook dui in die rigting van die persepsie dat manlikheid belangriker as vroulikheid is. Daarom is dit vir die manlike ego ’n groter slag as enigiets sy persepsie van sy eie manlikheid bedreig. Heteroseksuele ly ook as gevolg van hierdie reaksies omdat dit mans daarvan kan weerhou om normale emosies teenoor mekaar te toon of koesterend teenoor hulle seuns op te tree.

Die tradisionele siening van manlikheid berus op ’n potensieel gevaarlike filosofie. Die uitdrukking “wees ’n man” kan ook as ’n belediging gesien word. Dit kan impliseer dat jy nie simpatie of gevoel moet ervaar of wys nie, dat jy moet ophou dink en soos ’n soldaat blindelings moet gehoorsaam, en dat jy hard en onverbiddelik moet wees. Dit impliseer dat sensitiwiteit en verfyndheid in ’n man verfoeilik en onaanvaarbaar is. Hierdie siening van manlikheid, wat dikwels onderliggend aan homofobie is, kan lei tot emosionele verarming en sosiale wanaanpassing.

Simplisties geslagsrol-stereotipes is vir mans en vroue ewe nadelig. Keith Thomson sê in Views from the Male World: “There are many masculinities, multiple ways to be a man.” Dit verg soms veel meer moed om jouself as volledige mens te aanvaar en van die tradisionele siening te verskil, as om ‘n stereotipe man te wees.

Hierdie irrasionele afsku en vrees. wat soms tot gewelddadige reaksies kan lei, is in sommige mans ’n poging om hulle eie onderdrukte gevoelens en begeertes te besweer. Party mans sien enige teken van sensitiwiteit of “vroulikheid” as ’n bedreiging vir hulle wankelende manlike ego’s. Deur aggressief teenoor gays op te tree probeer hulle hul eie manlikheid bevestig.

Die terapeut en skrywer van die boeke The Action Approach en Society and the Healthy Homosexual, George Weinberg, het gesê: “I would never consider a person healthy unless he had overcome his prejudice against homosexuality.” Homofobie is beslis ‘n fobie en dus patologiese gedrag of geestesongesteldheid, omdat dit berus op ‘n totaal ongegronde en onrealistiese vrees vir iets wat die lyer in werklikheid geen skade kan berokken nie.

1321

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s