Sondag-meditasie: Films

Sondag-meditasie

Films

Barnard Steyn

God steek elke dag Sy hand op ‘n ryke verskeidenheid van maniere na ons toe uit. Die ou Keltiese Christene het van “dun plekke” gepraat waar God en mens mekaar kan ontmoet. Het jy vannaand ‘n goeie film gesien? Of na ‘n interessante TV-program gekyk? Dit kan ook ‘n “dun plek” wees.

August Lumiere, het die eerste kamera wat beweging kon registreer in 1895 aan die wêreld bekend gestel. Hy het nie veel hoop vir die nuwe tegnologie gehad nie. En het selfs gesê die wetenskaplike nuuskierigheid sal vir ’n kort tydjie geprikkel word, maar dat dit geen kommersiële waarde het nie. Hoe verkeerd kan ‘n mens wees? Vandag twyfel ons nie meer oor die invloed van films nie. Die Engelse vervaardiger van die film Chariots of Fire, David Puttnam, is daarvan oortuig dat sy lewe tot ‘n groot mate gevorm is deur ‘n plek …… vyf en ‘n half duisend myl van sy huis af. Vir hom was Hollywood se invloed oorweldigend.

Films word meermale dié kunsvorm van die 20ste eeu genoem. Daar is ‘n mooi aanhaling deur Ken Gire oor wat ‘n film kan doen:

“Movies take the common crystal of human experience,

cut it, polish it,

and hold it up to the light of a 35 mm projector

so those sitting in the dark can see it sparkle,

and, leaving the theater, take some of that sparkle with them.”

Dit is moontlik om ‘n God-ervaring in ’n filmteater te hê. Het jy al so ‘n oomblik beleef? Een van my oomblikke was tydens die film, Chocolat, wat op die Franse platteland afspeel. Die openings-toneel is ‘n ordelike Sondagerediens onder die wakende oog van die burgemeester. Maar dan daag Vianne op. ‘n Sjokolade-verkoper wat taboo’s oortree en tradisies bedreig. Haar warmte bring mense se versteekte seer aan die lig en daar kom genesing. Die arme jong priester, Père Henri, word gedwing om vir strenge moraliteit en teen mede-menslikheid te kies. Maar as die stadsvader self die stryd teen onmenslike reëls verloor, kry die priester die geleentheid om uit sy hart uit te preek. Chocolat eindig weer in die kerk. Père Henri se voel-voel Paaspreek was ’n “dun plek” tussen my en God. Sy preek is:

“Ek is nie seker wat die tema vir my preek vandag moet wees nie.

Wil ek praat oor die wonder van Christus se opstanding?

Nee, nie regtig nie.

Ek wil nie oor Sy goddelikheid praat nie.

Ek wil eerder oor Sy menslikheid praat.

Ek bedoel, jy weet, hoe Hy sy lewe hier op aarde geleef het.

Sy ‘goedheid’, sy ‘verdraagsaamheid’ ….

Luister, dit is wat ek dink.

Ek dink ons kan nie rondgaan en ons goedheid meet aan dit wat ons nie doen nie.

Aan wat ons onself ontsê, wat ons weerstaan en vir wie ons uitsluit nie.

Ek dink dat ons ons goedheid moet meet aan dit wat ons omhels, wat ons skep ….

en wie ons insluit.”

Hierop kan ons “Amen” sê.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s