Sondag-oordenking: VOEDSEL

Voedsel

Sondag, 10 Oktober 2009

Barnard Steyn

God steek elke dag Sy hand op ‘n ryke verskeidenheid van maniere na ons toe uit. Die ou Keltiese Christene het van “dun plekke” gepraat waar God en mens mekaar kan ontmoet. Een van die “dun plekke” is ‘n daaglikse verpligting. Dit is hartseer dat vir baie gesinne hierdie noodsaaklikheid ‘n voortdurende stryd meebring. Dié verpligting kan ook letterlik ‘n fees wees. Gewoonlik is dit ‘n fees in die kleine. Ons praat van ete’s as ontmoetingsplek.

Die Bybel beskryf godsdienstige feeste soos die Paasfees wat die verlossing uit Egipte vier. Gelowiges sien uit na die toekomstige Bruilofsmaaltyd van die Lam. Jesus het self die Nagmaal ingestel en dit geheilig. Die Bybel laat dit op verskeie plekke deurskemer dat sogenaamde gewone maaltye, of alledaagse ete’s, ook as heilig beleef kan word.

– As die Israeliete saam met hulle leier, Moses, vir 40 jaar lank deur die woestyn trek, is hulle in ‘n oorlewingstryd gewikkel. Die Here God voorsien dan op wonderbaarlike wyse manna en kwartels. Hulle eet die hemelbrood en vleis ter wille van oorlewing. Terselfdertyd is dit heilige voedsel, omdat dit uit die Vader se hand kom. Is alle ete’s nie so nie?

– Jesus staan na Sy opstanding langs die see van Tiberias. Sy dissipels het die hele nag deur op die boot deurgebring. Hulle was moeg en honger. Jesus nooi hulle om saam met Hom vis vir ontbyt te kom geniet. Dit is nie ‘n spesiale godsdienstige geleentheid nie. Dis ‘n werksete. Maar heilig, omdat Hy die Gasheer is.

– Die twee Emmausgangers, Kleopas en moontlik sy vrou, was oppad huistoe. Die vreemdeling wat by hulle aansluit is Christus, maar hulle weet nie dat dit Hy is nie. By die gesinsete of die sosiale ete herken hulle Hom. ‘n Heilige maaltyd, omdat Hy teenwoordig is.

Ons lees daarvan in Lukas 24 ….

“Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: "Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby." Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken …” (Lukas 24:28-31)

Om voedsel in te neem is ‘n gewoon fisiese noodsaaklikheid. Ons het die koolhidrate, proteïne, vette, vesels, vitamines en vloeistowwe nodig om gesond te kan leef. Maaltye het ook belangrike sosiale en kulturele funksies. In en deur dit alles, is elke ete heilig. Lewe is heilig. En lewe voed lewe. Ons is nie selfversorgend nie. Elke keer as ek en jy eet, word plantlewe of dierelewe opgeoffer sodat ons kan leef. Ons kan so afgestomp raak, dat ons heeltemal onbewus bly van die opoffering.

Gebed

Ek het mooi herinneringe aan my oupa se gereelde tafelgebed:

“Hemelse Vader, dankie vir die voedsel wat ons nou gaan geniet;

voed ons ook nou so met die brood van die ewige lewe. Amen.”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s