Woensdag-meditasie: GEDIGTE

Woensdag-meditasie: GEDIGTE

Barnard Steyn

God steek Sy hand op ‘n ryke verskeidenheid van maniere na ons toe uit. Die ou Keltiese Christene het van “dun plekke” gepraat waar God en mens kan ontmoet. Gedigte kan ‘n “dun plek” wees. Daar is mense wat hulle ontmoetings met God so goed kan verwoord, dat dit vir ander ‘n oase word. Die sielkundige, Wilhelm Jordaan, dig oor sy geloofsreis deur vier lewensfases. Miskien kan jy hiermee identifiseer.

Hy begin by die blinde goedgelowigheid van ‘n kind ….

“Ek weet goed, baie goed

hoe ek opgevoed is.

Ek, en die ander van my geslag

moes bang wees vir God

vir ons ouers, die onderwysers,

die predikant, almal wat

oor ons gestel is; die owerheid in toto.

Vir busse en vir trems

vir Johannesburg, vir heidens

en vir die gewone verkoue.

Vir drank en musiek

veral vir jazz

vir omtrent al wat boek is

vir die dagblad vir die Sondagblad

vir die geel gevaar, die swart gevaar

vir die Jood wat smous

vir kapitalis vir arbeider

vir Duitser

Amerikaner

en – veral

die Engelsman.

Die Jode floreer

Die Duitsers beheer

En die Ingelse oorheers

Imperialiseer.

Ai, en ja, hoe bang moes ek nie is

vir die kommunis

vir vrymesselaar

vir sosialis ….”

‘n Volgende fase noem hy twyfel en verset. Kritiese vrae word gevra oor ouers, dominees, die kerk en hy wonder oor die heiligheid van die nagmaal ….

“Sondag eet ek nagmaalbrood en word gevoed,

maar môre by ontbyt sien ek die brood is gemaak in Boerstra se oond;

of Sondag drink ek nagmaalwyn en word getroos,

maar môre by die middagmaal proe ek die wyn is gemaak van die KWV se hanepoot.”

Wilhelm Jordaan is eerlik oor die godsdienstige onverbondenheid (of buitestaanderskap) wat hy as volwassene beleef. Hy probeer sy kinders se vrae systap ….

Pappa, wie is jy?

Kind ek is ‘n pasehaas

wat iewers in April

sjokolade-eiers op geheime plekke plaas

waar julle dit kan vind.

Pappa, wie is Jesus?

Juffrou sê Hy is ons Meester.

Ek weet nie meer nie kind

Vra vir mamma om dit uit te vind.

Pappa, wie is jy?

Kind ek is ‘n krismisvader

wat elke jaar presente

om ‘n boom rangskik

vir een aand se geluk.

Pappa, praat met ons oor Jesus!

Jesus kind, nie vanaand nie

pappa gaan ‘n lesing hou

dat siel en liggaam één is, nie twee

dis my werk my kind

waarmee ek julle speelgoed, kos en klere gee.

Later in sy lewe beleef hy ‘n heelhartige oorgawe. Nou is dit Sondag se nagmaal en Maandag se ontbyt, trouens die hele lewe, wat heilig kan wees …

“In drome vol angs

bedien my Heer my

‘n klein sakrament

uit sy hand

breek die maan

wit wolke oop

tot sagte nagmaalbrood

En môre by ontbyt

sit ek aan tafel.

Sny ek uit die bakkersbrood

die nag se droom weer oop.

o Vlees van die Woord

voed my in hierdie môre

met u hemelgraan

dat iets van nagmaal

in my dag bestaan.

Psalm 22 verwoord so ‘n verskeidenheid van geloofsfases dat daar al gewonder is of dit een Psalm kan wees. Die diepste twyfel-vraag na die teenwoordigheid van God word hier gevra. Dieselfde woorde weerklink aan die kruis:

“My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?

My God, ek roep bedags en U antwoord nie,

ook snags, maar ek kry geen rus nie.” (Verse 2-3)

Na die vrae kom die getuienis oor gelowige voorouers wat geloofsoordrag na goedgelowige kinders impliseer:

“Op U het ons voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered.” (Vers 5)

Die belewenis van in-die-koue-gelaat-te-wees word hierna gehoor:

“Moet tog nie so ver van my af weg bly nie,

want die nood is naby en daar is niemand wat help nie.

Ek is soos uitgestorte water, al my bene het uitmekaar geval,

my hart het soos was geword, dit smelt weg in my.

Ek is so min werd soos ‘n potskerf,

my tong kleef aan my verhenelte,

U laat my lê asof ek dood is.” (Verse 1;15-16)

Uiteindelik is daar gebedsverhoring, ‘n nuwe toewyding en Psalm 22 eindig in ‘n loflied!

“U het my gebed verhoor!

Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente,

U in die volle vergadering prys.”

Dawid en Wilhelm Jordaan maak van poëtiese taal gebruik om van die “dun plekke” tussen hulle en God op die geloofsreis te verwoord. Hulle woorde word vir ons ook ‘n ontmoetingsplek.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s