OPINIESTUK: ” Ek is ‘n ‘faghag’ sonder ‘n ‘gaydar’ “

Ek is ‘n "faghag"* sonder ‘n "gaydar"**

Ek het glad nie ’n gaydar nie. Vir die een of ander rede kon ek nog nooit voorspel of iemand gay is of nie. My gebrek aan hierdie, volgens sommige, lewensnoodsaaklike vermoë het ooglopend duidelik geraak toe ek eers vier jaar gelede uitgevind het dat Elton John gay is. Ek dog hy is maar net ’n flambojante kêrel. Wie sou kon raai dat toe hy “hold me closer tiny dancer” sing, hy blykbaar eintlik die arms van ’n klein dansende mannetjie bedoel het. ’n Jaar of wat later was ek net so verbaas toe ek dieselfde nuus oor George Michael en Little Richard hoor. Die enigste persoon uit my jeug oor wie ek seker was,was Freddie Mercury, en dit is net omdat hy aan VIGS dood is, en konserwatiewes hom as gay-voëlverskrikker gebruik het om kinders bang te maak. Die formule was heel eenvoudig: Gay is gelyk aan VIGS, is gelyk aan pynvolle dood. “Another one bites the dust.”

Blykbaar is ’n gaydar iets wat met oefening ontwikkel, maar toe een van my heel beste vriende so drie jaar gelede uit die kas geklim het, het ek besef dat `n gaydar, en 3D-prente , my altyd sou ontwyk. Klaarblyklik wil of kan my oog nie dieper kyk as wat voor my is nie.

Om uit te vind dat een van jou heel beste mansvriende gay is, is nogals ontstellend. ‘n Mens voel verraai en baie selfbewus as iemand so naby jou eweskielik vir jou laat weet dat daar ’n kas is waarvan jy nie bewus was nie, en dat hulle in die proses is om daaruit te tuimel.

Die eerste gedagtes ná so ’n onthulling is vanselfsprekend selfsugtig. Hoekom het hy nooit vir my gesê nie? Hoe baie het hy al op my geperve? Gaan ek ooit weer kan spot dat Danie Rossouw gay rugby vir die Springbokke speel? Wat gaan al my ander vriende daarvan sê?

In my geval het ek egter bitter vinnig besef dat al my selfsugtige probleme met my vriend se seksualiteit erg oorskadu word deur die samelewing se probleme met sy seksualiteit, en dat ek so gou as moontlik oor dit moet kom en hom moet ondersteun.

Iewers in dié tydperk het ek myself uitgedaag om die moontlikheid te oorweeg dat ek self ook gay is. Drie minute later het boobs, en alles wat daarmee gepaardgaan, egter gewen, en is ek sedertdien oortuig ek is so heteroseksueel soos Steve Hofmeyer wat by die Wise Woman-byeenkoms optree.

En toe begin die pret.

Kort voor lank was ek en my vriend in ’n tradisionele bromance gewikkel. Ons het op kulturele uitstappies gegaan, maar ook hard saam met die manne gekuier. Een van ons uitstappies was om na my ou gemeente in Durbanville se debat oor homoseksualiteit te gaan luister. Hoewel die debat deur ’n progressiewe dominee gelei is, was daar ’n paar gemeentelede wat wou kom stem dikmaak, en terwyl hulle daar was sommer ’n paar klippe ook gooi.

Uit moedswilligheid het ons heel voor in die kerk gesit, en hoe langer die aand geraak het, hoe duideliker kon mens die polarisasie in die kerk voel. In die regterhoek, net duskant die kerkorrel, was die uitgesproke anti-gays. Aan ons linkerkant, onder die lapportret van die kruis, was dié wat gays in die gemeente wou aanvaar. Op ’n stadium het ’n vrou in trane opgespring en verduidelik dat Jesus net so lief vir haar Christen gay dogter is, as vir enige ander Christen. Voordat sy die snot en trane kon afvee, het Mike Tyson se tweelingsuster met ’n Bybel onder die arm uit die regterhoek ’n aanval geloods. Ek het die aanvaller in haar blommerok herken as ’n tannie wat al Sondagskool gegee het. Sy het haar Bybel so styf vasgehou dat haar kneukels witter as die lelies in die blommerangskikking voor die kansel was. Sy het gebewe terwyl sy die woorde uitspoeg dat “gays sondaars is” en dat “volgens hierdie boek” hulle hel toe gaan. Hierdie lagwekkende beeld is in my geheue vasgebrand, en sedertdien, waarookal ek homofobie raakloop, dink ek aan die tannie, eerder as om woedend te raak.

Daar is egter ook ’n paar sekulêre argumente teen gaywees, waarvan nie een water hou nie. Baie mense reken gaywees is ’n keuse en dat ‘n mens nie so gebore word nie. Vir hulle het ek twee woorde: Caster Semenya. As die heelal seksuele variasies soos hermafrodiete die lig laat sien, hoekom nie ook homoseksualiteit nie?

Dan is daar dié wat sê die gay leefstyl is losbandig. Dis ’n klassieke taktiek om mense wat in vorige dekades geforseer is om hulself seksueel in die donkerte uit te leef, promisku te noem. Ek was al by die Pienk Loerie Gay-fees in Knysna, en so belaglik flambojant dit is, laat dit my meer aan ’n protesoptog, as aan ’n fairy fest dink. Dis bloot mense wat ná jare se onderdrukking hulle ware kleure wil wys. Soos ’n jubelende gay toi-toi.

Wat ek ook besef het is dat straight mans wat bang is gay mans perv op hulle, baie van hulself dink, en gewoonlik nie genoeg aandag van vrouens af kry nie. As iemand wat gereeld bang was dat gay ouens by my gaan aanlê, was ek onkant gevang toe ek onlangs in ’n gay-klub beland, en nie een persoon vir my ’n drankie koop nie.

Net soos velkleur, val seksualiteit ook op ’n kontinuum. Jy mag jouself dalk heel regs tussen Eugène Terre’Blanche en PW Botha op die velkleurkontinuum bevind, maar jou kind val dalk net duskant Solly Philander. Menslike seksualiteit laat lyk die kontinuum soos ’n reënboog en ek verwelkom die afwisseling. Dis hoogtyd dat die mensdom leer om nie klippe te gooi na dinge waarmee hulle nie saamstem, of verstaan nie. Veral nie as dit nie skade aan enige iets of iemand aanrig nie, en liedjies soos “Fat Bottomed Girls” kan skryf nie.

Beer Adriaanse

(* “Faghag” is ‘n groeptaal-beskrywing wat verwys na ‘n persoon wat hoofsaaklik of eksklusief assosieer met gay en/of biseksuele mans. Die term het oorspronklik ontstaan in die manlike gay-kultuur in die VSA en was histories aanvanklik ‘n belediging. Lees meer.

** “Gaydar” verwys na die klaarblyklike vermoë van ‘n gay persoon om op intuïtiewe vlak en/of gewaarwording ander gay persone te identifiseer. – RED.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s