OOR GAY WEES – DIE ONTWIKKELING VAN ‘n GAY ORIëNTASIE

OOR GAY WEES

Jean du Plessis

DIE ONTWIKKELING VAN ‘N GAY ORIËNTASIE

Wanneer gevra word “wat veroorsaak homoseksualiteit”, impliseer dit die aanname dat alle mense gebore word met ‘n predisposisie vir heteroseksualiteit. Dit skep die indruk dat homoseksualiteit ‘n afwyking is as gevolg van iets wat in die persoon se ontwikkeling verkeerd gegaan her. Baie jare was dít die vertrekpunt van navorsing oor hierdie onderwerp. Eers onlangs het wetenskaplikes begin besef dat hulle eintlik moet vra: “Wat veroorsaak seksuele oriëntasie as sodanig?” Dit laat ruimte vir die moontlikheid dat homoseksualiteit slegs ‘n normale variasie van seksualiteit is wat vanuit dieselfde oorsprong as heteroseksualiteit ontwikkel.

As dit slegs ‘n geval van keuse was, sou almal ‘n heteroseksuele oriëntasie, wat hulle veilig en aanvaarbaar binne die breë gemeenskap sou laat voel het, verkies het. Wie sal bewustelik ‘n oriëntasie kies wat tot soveel verwerping, diskriminasie en spanning lei? Die faktor van keuse kom slegs in die prentjie in die geval van biseksualiteit. Die werklik homoseksuele mens se keuse is alleenlik of jy jouself gaan aanvaar of teenstrydig met jou natuur gaan leef. Laasgenoemde opsie lei onvermydelik tot aanpassingsprobleme en stres simptome. Die keuse is dus nie of jy homo- of heteroseksueel gaan wees nie, maar of jy dit gaan aanvaar en die beste van die saak maak en of jy daarvan gaan probeer wegvlug. Die mense wat homoseksualiteit as ‘n sonde beskou, wil nog steeds glo dat dit bloot ‘n kwessie van keuse of wilsbesluit is.

Daar bestaan stereotipe opvattings oor die oorsprong van hierdie seksuele oriëntasie. In die sestiger- en sewentigerjare is dikwels verwys na gesinsdinamika. Dominerende of “sterk” moeders en afwesige of “swak” vaders sou dan aanleiding gegee het tot die ontwikkeling van homoseksualiteit. Die wêreld is egter vol heteroseksuele mense wat onder soortgelyke omstandighede grootgeword het. As daar waarheid in hierdie teorie sou steek, sou ‘n baie groot persentasie seuns wat by enkelouers grootword, gay moet wees. So algemeen soos die voorkoms van gay kinders in gelukkige en “normale” gesinne is, net so algemeen is dit dat kinders van dominerende moeders en swak of afwesige vaders heteroseksueel is. Die teorieë oor gesinsdinamika kan nie verklaar waarom daar soveel heteroseksuele is wat aan dieselfde dinamika blootgestel is, of waarom die gesinsdinamika van soveel gay mans en vroue nie by hierdie patroon inpas nie.

Daar word soms verwys na die gehegtheid van baie gay mans aan hulle moeders. Die vyandigheid van die buitewêreld kan die gay kind (wat dikwels van vroeg af weet dat jy anders is) meer op die toegeneentheid van die moeder aangewese maak. In die groter samelewing is soveel verwerping dat die gevoel van aanvaarding en veiligheid wat deur die moeder-kind-verhouding geskep word, gekoester word. Omdat gay kinders gewoonlik nie trou en hulle eie gesin situasies ontwikkel nie, behou hulle dikwels nouer bande met die ouerhuis. Dit is ook meer dikwels die ongetroude kind wat later die verantwoordelikheid aanvaar om na ‘n bejaarde ouer om te sien. Dit is dus nie noodwendig die gehegtheid aan die moeder wat aanleiding tot die gay oriëntasie gegee het nie, maar juis die gay oriëntasie wat die gebondenheid aan die moeder meegebring het.

So onlangs as 1996 het dr. Callie Hugo, pastorale terapeut van die NG Kerk, in ‘n onderhoud met Sarie van Niekerk van Beeld homoseksualiteit bloot as aangeleerde gedrag beskryf. Die betrokke teoloog het dit nog steeds probeer verklaar na aanleiding van ouer-kind-verhoudinge en opvoedingspatrone. Die implikasie is dus dat homoseksualiteit, soos enige aangeleerde gedrag, weer met die nodige hulp afgeleer kan word. ‘n Uitgediende en ongeldige opvatting soos hierdie doen groot skade, veral wanneer dit vanuit ‘n posisie van outoriteit, gepaard met Christelike liefde en besorgdheid, aangebied word.

‘n Navorsingsprojek by die Aegean Universiteit in Turkye het in 1979 “bewys” dat diskomusiek manlike muise homoseksueel maak. Charlton Turner, president Reagan se adviseur oor mediese sake in die Wit Huis, het in 1986 beweer dat die rook van dagga lei tot homoseksualiteit. In Nieu-Guinee is ‘n stam wat glo dat mans homoseksueel word wanneer hulle die vleis van onbesnede varke geëet het (Rutledge, 1987).

Uit ‘n onlangse brief aan ‘n briewekolom kom die volgende: “Vandat ek kan onthou, is ek gay. Ek blameer niemand daarvoor nie. Niemand het my gemolesteer nie, ek kom uit ‘n goeie huis en ‘n gelukkige gesin, ek is nie opgepiep nie, het selfs vir die skool se eerste span rugby gespeel. Meisies het om my gedraai, maar my belangstelling was in die manlike geslag.” Hierdie reaksie is geen uitsondering nie. Soortgelyke stellings oor die “normaliteit” van hulle gesin situasies en kinderjare word algemeen deur gay mense en vroue gemaak.

Daar word dikwels bespiegel oor seuntjies wat graag popspeel of dogtertjies wat ‘n bal wil skop, as sou hierdie belangstellings hulle later in gays laat ontwikkel. Kinders begin reeds op twee of drie jaar differensieer in hulle spel, alhoewel dit heeltemal algemeen voorkom dat hulle veel later nog onbevange sal deelneem aan speletjies wat tradisioneel met die teenoorgestelde geslag geassosieer word. Die mate van spontane deelname sal egter ook afhang van die sosiale druk wat op hulle uitgeoefen word om te konformeer. Dit kan wel so wees dat spel aktiwiteite in ‘n vroeë stadium reeds ‘n aanduiding van ‘n kind se reeds bepaalde seksuele oriëntasie is, maar dis onwaarskynlik dat dit sal lei tot die ontwikkeling van ‘n gay identiteit. Seuntjies wat pienk babaklere gedra het en dogtertjies wat met motortjies speel, word beslis nie noodwendig gay volwassenes nie.

Slegs ‘n klein persentasie gay mans is uitsonderlik verwyf en ewe min gay vrouens is uitermate “butch” of mannetjiesagtig. Die meeste gay mans en vroue is uiterlik in terme van hulle belangstellings en stokperdjies nie te onderskei van heteroseksuele van dieselfde geslag nie. Volgens prof. Aubrey Theron van die Universiteit van Pretoria is slegs 14% van gay mans verwyf. Daar is aansienlik meer as 14% voorskoolse seuns wat soms popspeel en hulle word beslis nie almal gay of verwyfde mans nie. Dalk word party van hulle juis beter vaders omdat hulle kleintyd al deelgeneem het aan die versorging van hulle “babas”.

Volgens die Amerikaanse psigiater Friedman is daar in alle kulture oor die wêreld persentasiegewys ongeveer ewe veel gay mense. Hy het gevind dat sosiale faktore en verskillende benaderings in kinderopvoeding geen effek het op die persentasie kinders wat as volwassenes homo- of heteroseksueel sal wees nie. As gevolg van sosiale en kulturele faktore sal dit egter nie in alle kulture ewe openlik voorkom nie.. Ian Corbett, Anglikaanse priester wat baie jare in Lesotho, Zimbabwe, Botswana en oral in Suidelike Afrika gewerk het, beweer dat homoseksuele redelik algemeen in die Sotho, Tswana en Shona gemeenskappe voorkom, selfs tussen getroude mans. So ver hy weet, is daar ‘n ontspanne openheid daaroor, solank ‘n mens dit nie probeer bespreek nie. Dat dit plaasvind, is geen geheim nie, maar om daaroor te praat, is taboe (Germond & De Gruchy, 1997).

Professor Lewis Hurst, professorale erelid in genetika-navorsing aan die Universiteit van die Witwatersrand, het, na deeglike bestudering van die bestaande navorsing, in 1980 reeds gesê: “Die genetika het ‘n oorerflike grondslag vir homoseksualiteit by die manlike volwassene bevestig en die sitogenetika, het die kromosomale oorsprong van die verskillende soorte interseksualiteit aangetoon.” (Joubert, Conradie, Louw & Hurst: Perspektiewe op homoseksualiteit.) Professor Hurst verwys ondermeer na die navorsing van Franz Kallman, hoof van die departement mediese genetika aan die New York Psychiatric Institute. Laasgenoemde navorsing is hoofsaaklik gebaseer op familie- en tweeling studies. In ‘n vergelyking van 40 pare monosigotiese (identiese) met pare disigotiese (nie-identiese) tweelinge, het Kallman ‘n 100% korrelasie by die monosigotiese tweelinge gevind. Volgens professor Hurst het Kallman se familie studies die genetiese basis van homoseksualiteit onteenseglik bewys. Die bevindinge van die span in New York het ooreengestem met dié van Lang in Duitsland. Ten spyte hiervan is daar nog baie plaaslike teoloë en selfs ‘n seksuoloog wat dogmaties hou by die idee dat homoseksualiteit bloot sonde is.

Gedurende 1991 is ‘n opspraakwekkende bevinding deur ‘n prominente breinchirurg, dr. Simon LeVay van die Salk Instituut in San Diego bekend gemaak. Hy het konsekwent verskille in ‘n groepie selle in die hipotalamus in die brein by hetero- en homoseksuele mans gevind. Die hipotalamus is ‘n gedeelte van die basis van die brein. Die werking van die hipotalamus beïnvloed onder meer die liggaamstemperatuur, die toestand van slaap of wakker wees, honger, dors, spysvertering, emosionele en seksuele funksionering . LeVay vind ‘n opvallende ooreenkoms in die betrokke groep selle in die hipotalamus van gay mans en heteroseksuele vroue. Die groepie neurone wat verband hou met seksuele gedrag is by gay mans, soos by heteroseksuele vroue, meer as die helfte kleiner as by heteroseksuele mans.

Diere studies het getoon dat die brein by alle soogdiere aanvanklik, in die vroeë ontwikkelingstadium, vroulik is en dat die ontwikkeling van die betrokke groep selle by manlike diere voor geboorte reeds deur hormone beïnvloed word. Indien die betrokke hormone egter nie op ‘n gegewe stadium hierdie deel van die brein bereik nie, sal dit vroulik bly, ongeag die genetiese geslag van die dier. Daar sal egter nog navorsing gedoen moet word om hierdie teorie finaal te bevestig. Die menslike brein bestaan uit twee lobbe of hemisfere wat deur middel van die corpus callosum, ‘n brug van senuweebane, met mekaar verbind is. Prof. Roger Gorski van Los Angeles het gevind dat hierdie brug tussen die twee brein lobbe by homoseksuele mans dikker is as by heteroseksuele mans.

‘n Teorie wat ook na die voorgeboortelike ontwikkeling van die hipotalamus verwys, bring homoseksualiteit in verband met stres gedurende swangerskap. Wanneer ‘n swanger vrou ernstige stres ervaar, word meer vroulike hormone afgeskei. Indien dit gebeur tydens die periode wanneer die ontwikkeling van die spesifieke “seksuele oriëntasie”-selle in die hipotalamus plaasvind, kan dit lei tot ‘n manlike baba wat late ‘n homoseksuele oriëntasie sal openbaar.

Tot onlangs was daar min inligting oor die genetika met betrekking tot homoseksualiteit beskikbaar. Michael Bailey, ‘n Amerikaanse sielkundige, se studie van identiese en nie-identiese tweelinge dui ook sterk op ’n genetiese faktor. Dr. Harmer, ‘n Amerikaanse genetikus, meen dat daar onweerlegbare bewyse van ‘n genetiese faktor by homoseksualiteit is. Soos Kallman, baseer hy sy stelling op verskeie studies van identiese tweelinge, uitgebreide familie studies en direkte bestudering van die gene. Harmer sê: “Science is rapidly converging on the conclusion that sexual orientation is innate.” Soms loop daar ‘n lyn deur die familie, wat kan dui op ‘n genetiese predisposisie. As gevolg van die stigma-faktor en die gevolglike geheimhouding, sal dit baie moeilik wees, indien nie totaal onmoontlik nie, om dit wetenskaplik na te vors.

Mense is baie verdedigend en geheimsinnig oor hierdie faset van hulle lewe. Nogtans is daar reeds interessante studies in Amerika gedoen waarin onder andere gevind is dat gay mans ‘n beduidend hoër persentasie neefs en ooms aan moederskant het. Aan vaderskant was die persentasie gay familielede nie hoër as in die algemene bevolking nie. Die meeste gay mense het nie kinders nie, maar nogtans sterf gays nie uit nie. Dit kan dus wees dat hierdie genetiese predisposisie deur heteroseksuele moeders aan hulle kinders oorgedra word. Plaaslike kenners, soos prof. Aubrey Theron van Pretoria, glo ook dat homoseksualiteit, veral by mans, grootliks aangebore is.

Die laaste aantal jare het navorsing gefokus op hoofsaaklik drie areas, nl. hormonale invloede, breinstrukture en genetiese faktore. Hierdie drie kan interverwant wees (Clausen, 1995).

Volgens antropoloë is dit onmoontlik om iemand te “leer” om homoseksueel of heteroseksueel te wees. Omdat seksuele oriëntasie nie aangeleerde gedrag is nie, kan dit ook nie “afgeleer” word nie. Hulle het gevind dat gay mense soms op so vroeg as drie- of vierjarige ouderdom reeds hulleself as “anders” ervaar. Daar is egter ‘n verskil tussen seksuele oriëntering en seksuele gedrag. Oriëntasie verwys na die basiese ingesteldheid, maar gedrag is die uitlewing of toepassing daarvan. Deur middel van aversieterapie kan daar wel ‘n weersin in ‘n spesifieke vorm van seksuele gedrag opgebou word. Deur aversieterapie word sekere gedrag deur die vorming van negatiewe assosiasie “afgeleer”. So word gay mense deur die assosiasie vorming van gekondisioneer om pyn te ervaar of naar te voel by die aanskoue van ‘n seksueel prikkelende beeld van iemand van dieselfde geslag. Aversieterapie kan dus wel hierdie natuurlike reaksies by gay mense onderdruk en hulle seksueel gefunksioneer maak, maar dit kan nie die basiese onderliggende oriëntasie verander nie. Dit lei dus tot frustrasie en onvervuldheid.

In sommige van die Amerikaanse literatuur word gepraat van konstitusionele en tansisionele homoseksuele. In die geval van konstitusionele homoseksualiteit is die persoon vanaf sy/haar vroegste kinderdae (moontlik sedert geboorte) homoseksueel. Transisionele homoseksuele gaan slegs deur ‘n homoseksuele fase, byvoorbeeld wanneer heteroseksuele kontak as gevolg van omstandighede nie beskikbaar is nie.

Daar word soms van “seksuele voorkeur” gepraat waar daar verwys word na mense wie se seksuele voorkeur by geboorte reeds vasgestel is. “Seksuele voorkeur” impliseer dat daar ‘n mate van biseksualiteit moet wees, anders sou daar geen keuse te maak gewees het nie.

Die kwessie van molestering en verkragting word ook soms as moontlike oorsaak genoem, maar daar word uit die oog verloor dat verreweg die meeste mense wat sulke ervarings gehad het, nie gay as volwassenes is nie. Amerikaanse opvolg studies van seuns wat deur volwasse mans seksueel gemolesteer is, het getoon dat daar nie ‘n groter persentasie van hulle in homoseksuele volwassenes ontwikkel as van enige ander groep seuns nie. Meisies of seuns wat hulle, nadat hulle verkrag of gemolesteer is, tot lesbiese of gay verhoudings wend, was reeds gay of het heel moontlik ‘n redelik sterk mate van biseksualiteit I hul seksuele samestelling gehad reeds voor hierdie insidente.

Tienerseuns en –dogters gaan byna universeel deur ‘n stadium van seksuele eksperimentering met lede van dieselfde geslag, maar vir slegs ‘n klein persentasie is dit die begin van ‘n gay seksuele lewenspatroon. Waarom? Omdat slegs hulle wat reeds lank voordat hulle seksueel bewus geword het ‘n gay oriëntasie gehad het, hulleself voortaan hoofsaaklik homoseksueel sal uitleef. Vir die res bly dit maar net relatief oppervlakkige seksuele eksperimentering wat hul ontgroei sodra hulle verhoudings met lede van die teenoorgestelde geslag begin vorm.

Freud, die vader van psigoanalise, het beweer dat alle mense deur vasgestelde stadiums van psigoseksueel ontwikkeling gaan. Dit sou begin by die anale en oral stadiums by babas en jong kleuters en dan vêrder ontwikkel deur die latente en homoseksuele stadiums, totdat die heteroseksuele stadium bereik word. Die ou psigoanalitiese konsep van ‘n vaste opeenvolging van psigoseksueel ontwikkelingsfase is in ‘n groot mate uitgedien. Daar word nie meer gepraat van fiksasie in ‘n vroeë stadium van psigoseksueel ontwikkeling nie. ‘n Mens hoef maar net met ‘n paar mense te praat om te ontdek dat Freud se stadiums nie noodwendig in ‘n sekere volgorde plaasvind nie. Hetero- en homoseksuele reaksies word dikwels terselfdertyd by mense van alle ouderdomme aangetref. In baie gevalle het heteroseksuele gedrag die homoseksuele gedrag voorafgegaan en nie andersom nie.

Byna alle gays word groot en leef daagliks in ‘n oorwegend heteroseksuele omgewing. Selde is ouers rolmodelle vir hulle gay kinders. Van kleins af word gays beïnvloed om te aanvaar dat ‘n heteroseksuele lewenstyl die ideaal is om na te streef. Nogtans, teen alle verwagting in, ontwikkel ‘n seker persentasie van die samelewing ‘n gay oriëntasie. Aan die ander kant is daar ook vele voorbeelde van kinders wat in gay huishoudings grootgeword het en, benewens ‘n verdraagsaamheid teenoor mense wat “anders” is, heeltemal heteroseksueel ontwikkel het.

Ten spyte van ongelooflike druk om te konformeer, is daar in bykans alle kulture en tydperke in die geskiedenis ‘n sekere persentasie mans en vroue met ‘n gay oriëntasie. Selfs marteling, doodstraf en baie ander vorms van diskriminasie kon oor die eeue niks hieraan verander nie. In plaas van die soeke na die “swakheid” wat homoseksualiteit veroorsaak, sal navorsers dalk eendag begin soek na die krag of sterkte in homoseksuele se samestelling wat hulle in staat stel om ten spyte van soveel teenstand in ‘n vyandige wêreld staande te bly.

Of homoseksualiteit nou verband hou met genetika, hormonale invloede tydens swangerskap, omgewingsfaktore tydens die vroeë kinderjare en of dit slegs gesien moet word as ‘n normale variasie van seksualiteit, is hoofsaaklik van teoretiese belang. Die belangrikste is dat homoseksuele mense ‘n beduidende deel van elke samelewing vorm en dat heteroseksuele nie oningelig en bevooroordeeld teenoor hulle behoort te staan nie.

132

One response to “OOR GAY WEES – DIE ONTWIKKELING VAN ‘n GAY ORIëNTASIE

  1. lettiekonfetti

    jean, ek het sommer nog net vasgehak by jou eerste paragraaf… daar staan nog heelwat ander raak-vat gedagtes, maar ek het tyd nodig om my kop rondom hierdie 1 te kry…

    want dit gee my weer moed vir 2 tree verder… dankie!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s