Woensdag-meditasie: NATUUR

Natuur

Barnard Steyn

God steek elke dag Sy hand op ‘n ryke verskeidenheid van maniere na ons toe uit. Die ou Keltiese Christene het van “dun plekke” gepraat waar God en mens mekaar kan ontmoet. In die boek Spreuke is dit opvallend dat daar ‘n besonderse “dun plek” tussen God en koning Salomo was: ‘n ontmoetingsplek waarmee baie mense vandag nog kan identifiseer, naamlik die natuur. In ‘n droom vra die Here vir ’n jong Salomo wat hy die meeste begeer. Sy antwoord is “’n opmerksame hart”, ‘n horende hart, ‘n luisterende ingesteldheid. En hy was geseën met wysheid, insig en onderskeidingvermoeë. Salomo kon na ’n mier, boomblare, die wind en wolke kyk en God se boodskap vir die mens daarin sien. Hy gebruik natuurbeelde om die misterie van die liefde te besing.

* “Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom.” (Spreuke 6:6)

* “Wie op sy rykdom staatmaak, kom tot ‘n val; wie reg doen, floreer soos groen blare aan ‘n boom.” (Spreuke 11:28)

* “Miswolke en wind, maar geen reën nie, so is iemand wat spog met wat hy sal gee en dit nooit gee nie.” (Spreuke 25:14)

* “Daar is drie dinge, nee, vier wat bo my begrip is, wat ek nie verstaan nie: hoe ‘n aasvoël in die lug bly, hoe ‘n slang teen ‘n rots op seil, hoe ‘n skip op die diepsee vaar en hoe die liefde tussen ‘n man en ‘n meisie werk.” (Spreuke 30:18-19)

Die bekende kunstenaar, Vincent van Gogh, kon nie vir God in die natuur miskyk nie. Hy sê: “Die natuur is aan die praat. Ek kan nie verstaan waarom almal dit nie kan sien of voel nie; die natuur of God spreek tot enige iemand wat oë en ore het en ‘n hart wat verstaan.” Daar is twee getuienisse uit die Karoo-dorpie, Pearston, van mense wat vir God in die natuur beleef het. Hulle het toe die ontmoetings digterlik verwoord. Die eerste is ‘n aanhaling uit Eve Palmer se “Plains of the Camdeboo” en die tweede ‘n gedig deur Hélène Kesting.

“The Karoo breeds few atheists. Perhaps this is accident and its plant and animal world, so bizarre and yet so methodical, plays no part in this at all; or perhaps, unguessed by its people, the pressure of a great plan is about them.” (Eve Palmer)

Die Sterre oor Pearston (Hélène Kesting)

Ek gaan terug na Pearston

om weer die klokkespel

van die sterre te hoor

uit die stil naby-gewelf

van die Karoo-plaasnag

’n Gemaskerde Beiaardier

bespeel die sterre

nes toe ek ’n kind was

die uitspansel weergalm

ek word vervoer deur die luister

die Een wat die sterre bespeel

by my

op eie houtjie

is ek doof

vir die klokkespel van die sterre.

Gebed

Die Psalmdigter het ook lank terug na die natuur gekyk en vir God daar ontmoet:

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring. As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis. Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!

3365016798 8940c1b75d

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s