MET CASTER SEMENYA OP DIE WATERBERGE

Kerkbode berig:

Met Caster Semenya op die Waterberge

Marietjie van Loggenberg

Caster Semenya. Op die stoep van ons Waterberghuisie dink ek aan haar. Almal praat oor haar, van haar, om haar, namens haar. Dis aangrypend hoe baie Suid-Afrikaners (veral haar eie kultuurmense) haar ondersteun en probeer beskerm.

Ander wonder weer…gereed met oordeel in die hart. Soms praat Caster met haar growwe stem oor haar prestasie: goud in die 800m by die wêreld atletiekbyeenkoms in Berlyn. Maar sy bly stemloos, stom oor haar eie hart en die wêreld se twyfel oor haar geslagsidentifikasie.

Ek wens sy kon hier bo-op die Waterberge langs my, by my sit. Weg van die gewoel en al die vrae en vernederings en sommer net wees. Mens wees. Caster wees.

Ek sou vir haar die dikbas met sy sterk, reguit, droë takke, nog dor van oorwintering, aan ons linkerkant wou wys. En die stamvrug, welig, bietjie vermakerig, dragtig van belofte, voor ons. God se balans in die natuur. Ek sou vir haar wou vertel dat net soos wat die bome in die natuur verskil, verskil mense ook: van individu tot individu, maar ook van dag tot dag. Meestal kry jy sommer ‘n dikbas en ‘n stamvrug in dieselfde mens. Vir ons besluite kan ons aanspreeklik gehou word, maar aan die biologie van ons menswees het ons geen aandeel nie. Selfs ek met my "normale" chromosoomsamestelling, "normale" hoeveelheid estrogeen en testosteroon, nie te harig, stem nie te grof, sigbare borste, voorkoms vroulik genoeg, het geen bydrae tot my voorkoms, my vroulikheid, my seksuele oriëntasie en my seksuele identifikasie gemaak nie. Wanneer ek aan manlike feromone blootgestel word, reageer my hipotalamus (die plek in my brein waar seksuele opwelling registreer) aan die regterkant van my pre-optiese kern. Daar is geen keuse ter sprake nie. Dis hoe ek gemaak is. So het ek myself kom kry na my geboorte. Ek is uniek. Anders as alle ander mense. God se handewerk. Caster ook.

Terwyl ons kyk hoe die koedoes en die kameelperde suip, sou ek vertel dat ons mense dikwels wil hê almal moet dieselfde wees: dikbasse of stamvrugte. Eintlik moet almal nie net soos ons wéés nie, maar ook soos ons dink, dieselfde waardes as ons hê, inpas in die voorskriftelikheid van menswees soos deur eeue heen aan ons voorgehou is. Gewoonlik word mense met mag se idees as die waarheid gesien. Ons het dikwels min toleransie of begrip vir mense wat anders is: ander kulture, tale, velkleure, gelowe, seksuele oriëntasie, fisiese of intellektuele andersheid, ens. Dit maak ons ongemaklik. Soos nou weer met Caster. Haar andersheid dreig om haar ongelooflike prestasie totaal en al te oorheers. By haar sou ek hardop kon wonder oor wat die media reaksie op haar andersheid aan haar menswees doen. Sy’s maar net agtien. Maar sy’s ook reeds agtien. Sou dit dalk vrees wees, of pyn wat haar "stemloosheid" voed?

Met haar sou ek kon deel dat haar stemloosheid vir my resoneer met gays se stemloosheid terwyl hul nog nie "uitgekom" het nie. Ek sou haar versigtig oor die effek van nie-te-kan-sê wat in haar hart omgaan nie, kon vra. Selfs dalk saam met haar begin droom oor die moontlikheid van opstaan teen die vrees en pyn. Soveel mense wat anders is, wat nie in die voorgeskrewe norm van man of vrou inpas nie, het al uitgeroep: "Ek kan nie meer nie. Ek versmoor agter hierdie masker. Ek leef ‘n leuen." Valse beskuldigings, agterdog, onkunde en gevolglike vrees vir verwerping hou mense wat anders is, dikwels stom. Gelukkig is daar vandag wetenskaplike bewyse dat mense biologiese verskille het wat geslagsdifferensiasie, asook seksuele oriëntasie veroorsaak.

‘n Groep wetenskaplikes het bv aan die Karolinska Universiteit (Stockholm, Swede) mos reeds in 2005 dmv ‘n "PET scan" waargeneem dat sekere hormone nl feromone, die menslike hipotalamus stimuleer. Verdere navorsing met heteroseksuele- en gay mans enersyds en heteroseksuele- en gay vrouens andersyds het ‘n interessante feit na vore laat kom: Wanneer heteroseksuele mans en gay vrouens aan vroulike feromone blootgestel is, registreer dit feitlik op dieselfde plek in die hipotalamus, nl aan die linkerkant. Wanneer heteroseksuele vrouens en gay mans aan manlike feromone blootgestel is, registreer dit ook feitlik op dieselfde plek in die hipotalamus, maar aan die regterkant. Hierdie onwillekeurige breinfunksie berus nie op ‘n keuse nie, maar is ‘n biologiese gegewe. Van al hierdie wetenskaplike bevindinge weet Caster waarskynlik niks nie. Net dat sy anders is.

Oppad berg-af sou ek vir Caster (of sommer aan almal wat anders is) wou toebid:

Mag jy die wysheid kry om te verstaan dat ons mense dikwels arm is aan insig en deernis.

Mag jy vanuit jou diepste binnekant die wéét hê van wie jy is

Mag jy die taal ontwikkel om jou seksuele identiteit – jou wéét

van wie jy is – te kan verwoord.

Mag jy die innerlike krag ontvang om teen onreg op te staan

Mag jy die vermoë hê om hierdie onsensitiewe situasie buite jouself te plaas sodat jy jou prestasie in goud met oorgawe kan vier.

Mag jy Christus se inklusiewe, omarmende liefde en aanvaarding ervaar.

Mag jou identiteit in Hom jou menswees bevestig.

(Marietjie van Loggenberg is ‘n terapeut van Pretoria)

3 responses to “MET CASTER SEMENYA OP DIE WATERBERGE

  1. Lidia Theron

    Marietjie, dankie!
    Jy het dit so Godsmooi geskryf!

  2. Marietjie: Hierdie moet na die breer leserspublik toe gaan…asseblief
    schalk

  3. Tania Fourie

    Hierdie vrou weet waarvan sy praat! Sy het ‘n ongelooflike kennis en insig van mense wat “anders” is volgens die samelewing. Ongelukkig sal die wat so bevooroordeeld is moontlik nie eens die artikel lees en introspeksie doen nie. Ons kan maar net vir hulle bid.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s