OOR GAY WEES – HOE ALGEMEEN KOM HOMOSEKSUALITEIT VOOR?

OOR GAY WEES

Jean du Plessis

HOE ALGEMEEN KOM HOMOSEKSUALITEIT VOOR?

In A New Dictionary of Ethics sê James Nelson dat homoseksualiteit in alle rasse, nasionaliteite, etniese groepe, maatskaplike klasse en in alle periode van die geskiedenis voorkom. Al wat verskil, is die maniere waarop dit uitgeleef word.

Homoseksualiteit kom geensins eksklusief by die mens voor nie. Donald West se navorsing het in 1955 reeds getoon dat seksuele verkeer tussen lede van dieselfde geslag algemeen voorkom by primate en soogdiere. Hierdie gedrag is nie beperk tot sekere omstandighede nie, maar kom ook spontaan in die natuurlike omgewings van die betrokke diere voor.

Volgens die gesaghebbende en baie omvattende navorsing van Kinsey (Sexual Behavior in the Human Male) wat in 1948 gepubliseer is, eksperimenteer 60% van pre-adolessente seuns met homoseksuele aktiwiteite, en 6,3% van alle seksuele aktiwiteite tussen volwassenes is homoseksueel van aard. Ten minste 37% (meer as 1 uit elke 3) van die manlike bevolking het een of ander homoseksuele ervaring tot by die punt van orgasme gehad tussen adolessensie en hul oudag. Tien persent van alle mans het oor ’n tydperk van ten minste 3 jaar tussen die ouderdomme van 16 en 55 uitsluitlik homoseksueel geleef en 4% het hulleself as volkome homoseksueel beskou. Kinsey beskou 10% van die Amerikaanse mans as eksklusief of oorwegend homoseksueel. By 50% van alle mans was daar soms homoseksuele fantasieë. Sommige ondersoeke vind meer gay mans as lesbiese vroue.

Kinsey en sy span medewerkers van die Indiana Universiteit se Institute for Sex Research se navorsing is in die veertigerjare gedoen toe daar nog nie maklik openlik oor die onderwerp gepraat is nie. Die vermoede bestaan dus dat baie mense nie hulle seksuele oriëntasie openlik sou wou erken nie en dat die voorkom van homoseksualiteit in werklikheid groter kan wees. Kinsey se opvolger, dr. Paul Gebhard, het al sy statistiek nagegaan en daarna die navorsing voorgesit. Hy het gevind dat bykans 10% van alle geografiese, etniese en sosio-ekonomiese groeperings in die Amerikaanse bevolking “extensive and more that just incidental homosexual experience gehad het. Statisties kom dit daarop neer dat daar in elke tipiese familiegroep bestaande uit ouers, grootouers, twee kinders, ’n oom en ’n tante, minstens een lid met ’n homoseksuele oriëntasie sal wees.

Byna dertig jaar ná Kinsey het Morton Hunt, na deeglike ondersoeke, Sexual Behavior in the 1970’s gepubliseer. Ten spyte van die seksuele revolusie wat sedert Kinsey se navorsing plaasgevind het, kon Hunt geen toename in die voorkoms van homoseksualiteit vind nie. Hunt se bevinding dat ongeveer 10% van die bevolking bereid is om in opnames te erken dat hulle gay is, korreleer goed met soortgelyke opnames in Duitsland en Swede. As die inhiberende effek van homofobie in ag geneem word, kan aanvaar word dat hierdie persentasie heel moontlik hoër is.

Die Janus Report on Sexual Behavior, wat in 1993 in New York gepubliseer is, bevestig baie van Kinsey se bevindinge. Samuel en Cynthia Janus het ‘n verteenwoordigende monster van meer as 7 000 Amerikaners bestudeer.

Volgens Andrei Oberholzer, skrywer van gay romans en voormalige senior redakteur van die plaaslike gay koerant Exit, wissel die statistiek met betrekking tot die voorkoms van homoseksualiteit tussen een uit tien tot een uit vier. Dit beteken dat daar waarskynlik ’n hele paar miljoen homoseksuele mense in Suid-Afrika is.

Gay mense kom op alle vlakke van die samelewing voor. Verreweg die meeste is ordinêre mense wat gewone lewens lei. Met uitsonderings, is hulle gewoonlik onopsigtelik. Dit is bykans onmoontlik om nie gay familielede, werkskollegas of vriende te hê nie. Nogtans is baie mense, as gevolg van hul stereotipe opvattings oor gays, hiervan totaal onbewus.

In sy reaksie op die bewering dat hy seksuele kontak met ’n man gehad het, het die NNP leier*, Marthinus van Schalkwyk, die konsep van “Boerseun” aan heteroseksueel gelykgestel. Hierop het lede van die gat gemeenskap dadelik gereageer. Pieter Celliers, TV-regisseur en skrywer, het gesê dat gay Boerseuns nog altyd met ons was en destyds saam met die Voortrekkers oor die Drakensberge getrek het. ’n Joernalis van Die Burger, Waldo Müller, het ondersoek ingestel oor die kwessie van gay Boerseuns en onder andere gevind dat meer as die helfte van die kliënte van Kaapstad se gewildste gay uithangplekke Afrikaanssprekend is. ’n Mens kan ook maar net die Klein Karoo Nasionale Kunstefees bywoon om te besef hoeveel gay Boerseuns en Boeremeisies daar is. Die feit dat iemand ’n beroemde rugby- of sokkerspeler is, beteken nie dat hy noodwendig heteroseksueel is nie.

Selfs as ons die mees konserwatiewe beramings aanvaar, beteken dit egter dat daar bykans geen hoërskoolklas kan wees sonder homoseksuele leerlinge nie. Word hierdie feite ooit in ag geneem in skole se leerplanne?** Daar word byna uitsluitlik op heteroseksistiese letterkunde gefokus, en selfs in voorligtingklasse word die onderwerp gewoonlik vermy.

Redaksionele kommentaar:

* Marthinus van Schalkwyk was die voormalige leier van die NNP.

** Is dit nog die geval? Kan iemand dalk vir ons duidelikheid hieroor gee?

131

One response to “OOR GAY WEES – HOE ALGEMEEN KOM HOMOSEKSUALITEIT VOOR?

  1. Soos versoek deur Johan Strydom, lewer ek as onderwyser (tot onlangs toe) kommentaar op die vraag of vandag se skoolleerplanne voorsiening maak vir méér as net “heteroseksistiese” letterkunde en/of onderwys.

    Kortom is die antwoord “ja”.

    Met die nuwe kurrikulum en uitkomsgebaseerde onderwys (UGO) is daar wel pertinent beweeg na inklusiewe leerplanne wat die hele spektrum van menswees, in sy volle verskeidenheid, aanspreek.

    So word daar in die senioronderrigfase taal-leeareas dikwels leesboeke voorgeskryf wat juis handel oor buitestaander figure, diverse gesinne of maatskaplike probleme en/of voormalige taboes.

    In die nuwe verpligte vak vanaf graad 1 tot 12, Lewensoriëntering, word daar veral voorsiening gemaak vir die onderrig-en-leer van onderwerpe wat strek vanaf seksualiteit tot religieuse diversiteit.

    Wat religieuse diversiteit betref, byvoorbeeld, moet hedendaagse leerders take doen en toets skryf oor die geloofsbeginsels en geskiedenisse van Boeddhisme, Hinduïsme, Islam, Christendom en die Jodedom. Inderdaad ‘n wegbeweeg van destydse “Bybelstudie”-periodes. Ook agnostisisme, ateïsme en humanisme word gedek.

    Tog is die leerstof slegs een aspek van die onderrigleerproses.

    Dit kan wees dat ‘n onderwyser byvoorbeeld vir leerders onderrig van Islam, maar nog steeds Christenskap as die “ware” geloof voorhou.

    Of vir tieners preek oor hoekom seks voor die huwelik “sleg” is, terwyl leerders eintlik volgens die kurrikulum toegerus moet word om ‘n eie waardeoordeel te kan fel, en verantwoordelike verhoudings te kan aanknoop.

    Om krities te kan dink en redeneer, is trouens een van die kritieke uitkomstes in alle UGO leerareas.

    * * *

    Die meeste skole het gay onderwysers in hulle personeelkorps, maar skoolhoofde en beheerliggame behou dikwels ‘n groot mate van geloofsrigiditeit (derhalwe skole met ‘n uitsluitlik Christelike etos – hoe ondefiniëerbaar dit ook al mag wees).

    Nietemin bied die vak Lewensoriëntering vir beide onderwysers en leerders die geleentheid om kreatiewe debatte en waagmoedige gesprekke met mekaar te voer – ‘n geleentheid wat toenemend aangegryp word.

    Lees gerus ‘n blog-les wat juis hieroor handel: http://mnrmuller.wordpress.com/2009/04/02/life-skills-14-is-gay-wees-sonde/

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s