Woensdag-meditasie: KUNS

Kuns

Barnard Steyn

God steek elke dag Sy hand op ‘n ryke verskeidenheid van maniere na ons toe uit. Die ou Keltiese Christene het van “dun plekke” gepraat waar God en mens mekaar kan ontmoet. Kuns kan so ‘n “dun plek” wees. Dit was ‘n ontnugterende kunswerk wat my laat besef het dat ons so maklik onbewus bly van ontmoetingsgeleenthede.

By ‘n kunsfees loop ek deur die kamers van ‘n huis wat in ’n galery omskep is. In die sitkamer speel ‘n klein, swart-en-wit TV. Die kunswerk sit in ‘n vodde gemakstoel voor die TV-stel. Hy is ‘n lewensgrootte, boeppens draadman. Bier in die een hand en sigaret in die ander. Met ‘n skok kom jy agter dat die man sonder kop is. Onnadenkend, onbewus, koploos. Ons kan ook so leef en kontak-oomblikke tussen ons en God misloop.

Hoe waardeer ‘n mens kuns? Jy begin op die oppervlak. Eers die detail van die verfhale, daarna die besonderhede van die hele werk. Die kunswerk weerspieël iets van die kunstenaar wat dit gemaak het. En agter die kunstige mens kan jy die Skepper Self ontmoet.

‘n Vriend sing in ‘n kerkkoor wat ‘n Paasherinneringsdiens uitvoer. Die skildery wat tydens die erediens gebruik word, is ‘n Christus-gesig deur die kunstenaar, Martin Wessels. Die natuurlike roes-bruin pigment van die Boesmanklip is gebruik. Die hare en baard het ‘n growwe tekstuur. Die gesigvel is fyn, delikaat. Sy oë is gesluit, maar nie soos by iemand wat finaal dood is nie. Met ‘n skerp Boesmanklip is ‘n doringkroon op die kop aangebring. Jy herken iets van die kunstenaar se eie gelaatstrekke daarin, maar jy weet dit is Christus wat aan die kruis sterf.

Na afloop van die Paasdiens is my vriend na die naaste kafee om die plakaat as aandenking te vra. “Jammer, maar die Christus-gesig is opgefrommel en het in die asblik beland” was die antwoord. Nie dat dit my vriend afgesit het nie. Hy het dit uitgehaal, platgestyk en huistoe geneem. Eers by die huis tref dit hom soos ‘n hamerhou voor die kop. Dit is die Paas-boodskap. Christus was dood en Hy lewe weer! Alles in die wêreld is aan doodsheid onderworpe. Alles word opgefrommel, alles beland in die asblik, alles sterf. Maar in Christus is daar hoop en nuwe lewe. Christus-uit-die-asblik is vir my vriend teken hiervan. Vir hom is die plakaat ‘n kosbare kunswerk.

In Johannes 11 sê Jesus:

"Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook;

en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” (Johannes 11:25-26)

In die omdigting van Openbaring 21 sing ons:

‘Kyk, Ek maak alles nuut’, sê God.

‘Laat hom wat dors het, kom.

En hy sal vind hy is my kind;

Ek is ‘n God vir hom!’ (Lied 602:4)

2

One response to “Woensdag-meditasie: KUNS

  1. Ja, ek kan saamstem dat kuns inderdaad ‘n plek is waar ek God kan ontmoet. Ek het die wonderlike voorreg beleef van hoe God kuns in en vir my oopgebreek het, en wil so graag nog meer daarvan beleef. Ek is net so jammer dat ek steeds so dikwels weer daar verby kyk….. Ja ten spyte van alles, te midde van alles leef Jesus werklik. Hou seblief aan met meditasies. Dankie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s