SHALOM

SHALOM

Sondag, 06 September 2009

Andre Smith

Teksvers vir oordenking

Romeine 12:17-18

“Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.”

Vir die meeste gelowiges (so glo ek) behoort die woord “vrede” nie so vreemd oor te kom nie. Dit hang vir my saam met die vreugdes van Christenwees. Om, ten spyte van omstandighede, die vrede van God wat ons menslike verstand te bowe gaan te ervaar… watter wonderlike geloofservaring is dit nie! Hierdie vrede begin by my ontmoeting met God, deurkruis my eie geloofspad en spoel oor na alles en almal wat deel word van my geloofsreis.

Tog moet ek en jy erken dat hierdie vrede so maklik versteur kan word. So maklik, dat die Skrifwoord en opdrag in Romeine 12:17-18 byna buite jou en my bereik kan voel om deur te voer.

Ek was onlangs die slagoffer van rassisme in ‘n land duisende kilometers vanaf my eie. Dit was so ‘n vernederende ervaring. Ek kon nie glo dat dit met my gebeur het nie. Ek wou die media hiervan inlig… ek wou op my eie manier wraak neem. My vrede het in woede ontaard…

Ek lees so ‘n ruk gelede in VuurKairos (nog ‘n keer) die tragiese, hartseer storie

van Zoliswa Nkonyana (19 jaar oud) wat in 2006 vermoor is net omdat sy anders/ uniek/ lesbies was. En na 3 jaar het haar familie nog nie vrede nie… daar’s nog te veel seer en vrae… Ons vrede word aangetas… waar is geregtigheid?

So kan ek in my eie verbeeldingsvlug verder gaan en ander stories voor my sien afspeel. (‘n) Storie(s) wat ook op JÓÚ betrekking mag hê:

“My pa het my afgeskryf en onterf omdat ek hom die waarheid oor my seksuele oriëntasie vertel het.”

“Daar’s nou al vir die soveelste keer by my motor en huis ingebreek.”

“My maat het my in die steek gelaat.”

“Ek vind dit so moeilik om hulle te vergewe vir wat hulle aan my gedoen het.”

“Ek was weereens die slagoffer van ‘n magspel.”

“Here, hoekom het jy my so geskape!? Ek leef dan nou liefs losbandig om te ontvlug van die pyn en seer binne my.”

“So,jy probeer vuilspeel? Ek sal jou wys hoe dit gedoen word!”

Klink dit bekend? Kan jy ook ervaar hoe elkeen van hierdie stories (myne inkluis) die geneigdheid het om ons van ons vrede te beroof? Van vrede met ons Skepper, onsself en ander. In my geval moes ek in siel en wese uitroep – STOP!!!!!

Ek was van my vrede beroof. Ek was gekwets. Ek wou wraak neem… maar toe die skietgebed – Here help!!!

In ons mensheid is dit so maklik om onsself te laat geld in so ‘n mate dat ons vergeet wat ons ware identiteit is – lig vir die wêreld, gelowige, dissipel, vredemakers, ’n hawe vir die wat nie vrede ken nie.

Beteken dit dan ons maar soos “zombies” ons lewens moet lei, stilbly en maar ongeregtigheid moet laat seëvier? Nee, inderdaad nie. Ons mag en moet as God se kinders strewe na geregtigheid in alle situasies. Dis hoe ek en jy midde-in die situasie ons getuienis as gelowiges LÉÉF wat die deurslag gee. Dis wanneer my woede en seer God se hand van liefde ontmoet dat ons vrede weer herstel word. Dit was eers hierna dat ek weer my kop omhoog kon hou en versterk deur God se krag my weereens kon toewy om my lewensroeping te leef… om ‘n brugbouer te wees.

Kom ons bid saam:

Here, ek bely dat daar tye is dat dit vir my so moeilik is om U opdrag in Romeine 12:17-18 uit te voer. Ek bely dat ek menige kere wil wraak neem en dit my van my vrede in U beroof. Here, ek kan nie sonder U vrede lewe nie. Herstel in my U vrede sodat ek met alle mense in vrede mag leef. Amen.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s