Laurie Gaum resenseer in Rapport: “Allan Boesak oor gister, vandag en môre”

Allan Boesak oor gister, vandag en môre
Laurie Gaum

RAPPORT

Allan Boesak is nie net ’n orator van formaat nie – hy mag ook maar skryf. Hoe praat en skryf op mekaar inspeel, hoor jy weer in die ritmiese opbou van woorde en poëties-rollende frases in sy jongste boek, Running with Horses.

Die kern van die boek dek Boesak se nadenke oor die geskiedenis van die United Democratic Front (UDF) en bevat ook van sy toesprake uit daardie en later jare. Die titel is ontleen aan Jer. 12:5 waar die Here vir Jeremia (Boesak se gunsteling-profeet) vra: “As voetsoldate jou moeg hardloop, sal jy teen perde kan hardloop? En as jy net in ’n vreedsame land veilig voel, hoe sal jy maak in die digte bos aan die Jordaan?”

Allan Boesak is lankal een van Suid-Afrika se voorste teoloë van kleur wat op die wêreldverhoog speel, en dis hoekom die boek in Engels is. Die term “van kleur” kan dalk vir hom problematies wees, want hy is en bly intiem verbind tot die beginsel van nie-rassigheid. Hy spoor sy eie wortels in Running with Horses terug na die filosofie van die Swart Bewussynsbeweging wat, in die woorde van Steve Biko, alles te doen het met die bevryding van die bewussyn van die onderdrukte. Boesak wys hoedat die idee van nie-rassigheid, interessant genoeg, eintlik op die skouers van Swart Bewussyn staan.

Teologies is Boesak in Nederland tydens sy doktorale studies geradikaliseer. Dit sal vir baie ’n verrassing wees dat hy sy inspirasie in die “radikale Calvinisme” en in die teologie van die Nederlander Abraham Kuyper vind.

In Nederland maak hy kennis met die Swart Messias, vreemd aan die Westerse Jesus van die antieke belydenisskrifte wat geen voet in Afrika het nie. Saam met Boesak se teologiese kennis en insigte groei egter ook ’n woede wat ’n sentrale dryfveer in sy lewe word.

Boesak sê sy oproep vir burgerlike ongehoorsaamheid ná die Soweto-slagting in 1976 wou doelbewus ’n alternatief vir gewelddadige verset bied. Hy beskryf die sieleworsteling van Oliver Tambo, soos hy dit tydens ’n persoonlike ontmoeting met Tambo gesien het, ná die ANC ten gunste van ’n gewelddadige stryd gekies het. Hy spel sy morele keuse vir nie-gewelddadigheid duidelik uit. Hy skets dít, in kontras met die gewapende stryd, as deurslaggewend vir die uiteindelike oorwinning.

Reeds in 1983 vra hy in ’n toespraak: “Wát as ’n swart regering net so sleg is as hierdie wit regering?” Hy wys ook op die enorme persoonlike eise wat die struggle aan mense gestel het deurdat hul eie pyn en verlies byvoorbeeld op begrafnisse (wat dikwels as openbare “rituals of struggle” gebruik is) uitsonderlik privaat, en ingehoue, hanteer moes word.

Hy skryf ook oor die “fragmentasie” en “demoralisasie” wat die UDF gedurende die tweede noodtoestand in die laat 1980’s getref het. Volgens Boesak het dit onder meer met die konsolidering van mag onder die ANC verband gehou. Ideologiese verskille tussen die uitgewekenes en dié wat in die land gebly het, word uitgewys. Boesak se vernaamste beswaar is teen die gebrek aan ’n samehangende waarde-gebaseerde onderbou van die nuwe regeerders. Hyself vind so ’n teologiese begronding in sy vaste Christelike oortuigings.

In sy brief (23 Maart 2001) aan Kader Asmal wat hy uit die Goodwood-gevangenis geskryf het, kan gesien word watter rol geloof speel wanneer ’n mens jou in onmoontlike en onverstaanbare omstandighede bevind. Boesak se klem op sy Christelike geloof as die inspirasie vir sy lewe en sy politieke aksie word effens getemper deur ’n hoofstuk wat die oorspronge van spesifiek Moslem-Christelike samewerking naspeur. Samewerking met mense wat geen spesifieke geloof onderskryf nie, word na my mening nie genoegsaam hanteer in die lig van ons toenemend pluralistiese samelewing nie.

Boesak huiwer nie om krities te wees teenoor ikone soos Nelson Mandela en Desmond Tutu nie. Mandela het byvoorbeeld in 1994 “kleurling-politiek” ongetransformeerd ingedwing in die politiek van die bevrydingsbeweging, aldus Boesak. Mandela het ook min waardering getoon vir die kritiese afstand wat kerke wou inneem ten einde ’n waghond-funksie teenoor die nuwe regering te vervul. En Tutu het tydens die Waarheids-en-versoeningskommissie se ondersoeke hom in sommige gevalle op so ’n voorskriftelike wyse vir vergifnis beywer dat slagoffers nie genoegsaam uitdrukking kon gee aan hul geregverdigde woede nie.

Boesak verkwalik sekulêre historici se selektiewe geskiedskrywing wat die rol van geloof en van die kerk in die bevrydingstryd heeltemal onderskat. Vir hom is, as uitvloeisels van sy geloof, die waardes van gelykheid, van vryheid, van geregtigheid en van Afrika-gemeenskap en -solidariteit in die sentrum van sy denke. Dit bring hom te staan teen ’n “neo-Stalinistiese populisme” wat in die nuwe ANC te bemerk is, enersyds, maar aan die ander kant ook teen ’n neo-liberale kapitalisme.

Tog hou Boesak sy onderwerp ’n entjie van sy lyf – hy laat die leser nie in op al die intens-persoonlike besonderhede van die struggle se impak op sý lewe nie. Maar dis sekerlik sy reg om aspekte van sy lewe uit die publieke domein te hou. Hy staan wel ’n hoofstuk teen die end af aan struggle-finansiering en verbreek vir die eerste keer sedert 1994 sy stilte oor die aanklag, skuldigbevinding en tronkstraf van drie jaar wat hom opgelê is. Hy handel die saak na my mening eerlik en reguit af deur dit binne die ontstaanstyd en -konteks te plaas. Die ernstige foute wat in die regsproses teen hom begaan is, blyk ook duidelik in sy gepubliseerde voorlegging om presidensiële kwytskelding.

Dis ’n merkwaardige, boeiende boek, besonder mooi uitgegee deur die uitgewers Joho!

Dit wys ook waarom Allan Boesak sónder kleurkwalifikasie een van ons voorste teoloë is. Of hy net “per ongeluk”, oftewel toevallig, ’n politikus is en watter rol hy in die toekoms in dié verband sal speel, moet nog gesien word.

Running with Horses is ’n waardevolle tydsdokument. Meer as dit – dit is ’n geloofsdokument, ’n boek wat baie te sê het vir vandag en vir môre.

* Laurie Gaum is verbonde aan die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit in Kaapstad. Sien ook http://vuurkairos. wordpress.com.

20090829140623boekboesak220

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s