‘n Kerk om in te glo (Afrikaanse weergawe)

‘n Kerk om in te glo

Sondag 23 Augustus 2009

Laurie Gaum

(English version here)

“En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe… My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank.” – Joh 6:51c, 55

“For the time at which the Christian community proclaims (with whatever difference of interpretation) the ‘real presence’ of Christ is not a time of ignoring the world outside, but of incorporating it by making use of its creations”

– Robert Mc Afee Brown

Dis ‘n fassinerende punt wat die Amerikaanse teoloog Mc Afee Brown hierbo maak: Daar waar die kern van die misterie waarin Christene glo ten diepste gevier en opgevoer word – in die nagmaal – daar is dit nie dat ons van die wêreld vergeet nie. Nee, daar dek ons juis die tafel met sulke lekker aardse goed soos brood en wyn! ‘n Skeiding tussen die aardse en die wêreldse aan die een kant en die geestelike, “hemelse” aan die ander kant, is dus ‘n valse skeiding wat al lankal as sodanig afgewys is. Tog klou ons samelewing en die kerk dikwels nog hieraan vas.

Dit bly vreemd dat ons so dikwels sukkel met ons eie liggaamlikheid, met ons menslikheid aan die een kant, maar spesifiek ook met ons lyflikheid en seksualiteit. Ek het eenmaal in die moeilikheid beland toe ek van Jesus se “lyf” in die kerk praat. “Liggaam” is mos beter kerktaal as “lyf”, het die mense gesê. En hoe kan jy nou die woord “lyf” so naby aan die naam “Jesus” in ‘n sin gebruik? So wou hulle weet.

Baiekeer dink mense nog dat dit “behoorlik” is om jou lyflike by die kerkdeur agter te laat en te strewe na die meer verhewe, geestelike dinge sodra dit by die kerk kom en dit om geloof gaan. Dis seker dié dat sommige mense nie hou van kerktoe gaan nie, want hoe kan jy nou jou lyf by die deur los? In Johannes hoor ons egter dat Jesus se lyf deel van ons s’n moet word. Deur sy lyf kry ons léwe. Sy lyf géé vir ons die lewe. Deur sy lyf kan ons tuiser in ons eie lywe kom en kan ons lekkerder lewe. Sy menslikheid bring ons nader aan ons eie menswees en maak ons meer mens en so meer menslik teenoor ander mense.

Vir te lank het ons gedink: Hoe nader jy aan God kom, hoe meer geestelik jy raak, hoe verder gaan jy van jou liggaamlikheid en jou menslikheid af weg. Dalk is dit andersom. Dis wat Johannes ons vertel en dis wat ons in die sensualiteit van die nagmaal sien en ruik en proe. Maar om dit te kan belewe moet álmal hulle regmatige plek langs die nagmaaltafel kan inneem om deel te neem aan die maal wat vir álmal bedoel is. God wys tog niemand weg nie! Die tafel is tog die groot gelykmaker tussen ons!

Hoe wonderlik is dit as ‘n gemeente begin uitvoering gee hieraan en sodoende aan die volle verskeidenheid van die Liggaam gestalte gee. Hoe wonderlik as ‘n gemeente met oop arms staan om verskillende mense te verwelkom! In so ‘n kerk kan ‘n mens mos glo! So ‘n kerk begin na die nuwe kerk lyk wat ek wil help bou!

Dank Vader, God

Jy’t mens geword:

een van ons;

onder ons;

by ons

kom bly.

Met ons kom skouer skuur –

Jy’t sowaar gekies om lyf te kry!

Langs ons.

Langsaan my…

Intiem in ons velle kom kruip.

Om te loop waar ons loop.

Te doen wat ons doen.

Te voel wat ek voel.

Tussen-in ons.

Teen-aan my

Sowaar mens –

En menslik daarby

Sodat ek meer mens kan wees!

Amen.

One response to “‘n Kerk om in te glo (Afrikaanse weergawe)

  1. Sandra Coetzer (Gaum)

    Dit is wonderlik om deel van die liggaam (of lyf) van Jesus te wees. Deur die Gees wat in my lyf woon, word ek deurentyd verander om meer aan Jesus gelykvormig te wees. Ons almal worstel met dinge in ons mensheid wat teenstrydig is met God se volmaakte wil vir ons. Goddank, Jesus maak dit vir ons moontlik om geleidelik die struikelblokke te oorkom en meer aan Sy beeld gelykvormig te word! Dit is nie maklik nie, en ek moet elke dag opnuut my begeertes aan Sy voete neerlê en vra : “Here, maak my … volgens U volmaakte wil”. Dankie Here, dat U my aanvaar soos ek is, maar dat U te lief is vir my om my te los soos ek is. Uiteindelik sal mense eendag na my kyk en Jesus in lewende lywe sien!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s