‘n KERK VOOR DIE REGBANK: ‘n HERBESOEK AAN 11 – 13 AUGUSTUS 2008

‘n Kerk voor die regbank: ‘n herbesoek aan 11 – 13 Augustus 2008

In ‘n (soms) chaotiese wêreld soek ons sisteme om dinge te orden: biblioteeksisteme, tale, afsprake, herlisensiërings. En datums: verjaarsdae, huweliksherdenkings, sterfdatums. Noem maar op.

Sommige van hierdie datums het vir ons ‘n goeie betekenisse, ander is sleg. Na ‘n jaar is 11 – 13 Augustus steeds vir my ‘n vermenging van beide, en ek reken dat dit so sal bly. Na ‘n uitgerekte proses van bykans 3 jaar, was dit die hofdatum “IN THE EQUALITY COURT OF SOUTH AFRICA (TRANSVAAL PROVINCIAL DIVISION) – In the matter between JOHAN DANIëL STRYDOM (Complainant) and NEDERDUITSE GEREFORMEERDE GEMEENTE MORELETA PARK (Respondent).

Ek onthou daardie oggend voor die Paleis van Justisie goed. Dit was steeds winter in Pretoria, en ek en my regsverteenwoordigers het in ‘n koffiewinkeltjie langs die plein bymekaar gekom en koffie gedrink. Ek was onseker oor wat om te verwag; ‘n hofsaal is per slot van rekening nie jou sitkamer nie. Daar het fotograwe en kameraspanne van nuuskanale rondgestaan; advokate en opdraggewende prokureurs het met swaar lêers en togas oor die skouers verby ons gestap na hofsale toe. Na ‘n rukkie, en nadat ons ‘n paar tegniese aspekte bespreek het, het ons na die Paleis van Justisie gestap – ‘n pragtige gebou met marmervloere en houtbanke. Ek onthou dat Ronel Tolmay, my advokaat, aan my verduidelik het wat gaan gebeur, waar ek moet sit, en hoe die proses gaan verloop. Daar was nog ‘n paar minute oor voordat die hof sitting sou neem, en ek het na die portaal gestap met die doel om weer buite op die trappies te gaan staan. Maar buite het kameras geflits, en ek het omgedraai. Ek onthou dat ek vir my ma ‘n sms gestuur het: Bid vir my.

‘n Verslaggewer wat langs my gesit het, het aan my vertel dat dit in dieselfde hofsaal was waar Nelson Mandela destyds skuldig bevind is aan hoogverraad – ‘n feit wat ek nog nooit gekontroleer het nie, maar wat wel op daardie stadium vir my besondere betekenis gehad het.

Ek onthou dat ‘n ander joernalis ‘n oproep gemaak het voordat die dag se verrigtinge begin het, en my vertel het dat die Waterkloof 4 skuldig bevind is in ‘n paar hofsale van waar ons sou begin.

Vir drie dae het dit aangegaan: getuienis, ondervraging, kruisverhoor, laat aande wat ek blootgelegde hofdokumente moes bestudeer, telefoonoproepe, die media – ‘n surriële ervaring waar jy jou gesig op televisie sien, jou naam in koerantopskrifte, en beriggewing oor die radio. Die wenresep vir ‘n sappige storie: ‘n gay musikant wat ‘n gemeente van die N.G. Kerk voor die hof daag omdat hulle hom van sy pos onthef het op grond van sy seksuele oriëntasie.

Na 3 dae is getuienis klaar gelewer, en is ‘n latere datum vir finale betoë vasgestel. Ek kon nie meer nie, en het die Vrydag teruggevlieg na Port Elizabeth. Ek het ook toe nie finale betoë en uitspraak bygewoon nie, maar verkies om daardie tyd op my eie deur te bring.

Ek het Ronel se betooghoofde per e-pos ontvang, en onthou hoe treffend haar inleiding vir my was: “Religious intolerance has generated more wars, misery and suffering than any other type of discrimination or bias. In the name of this or that deity, for the glory of a divine cause or in order to settle abstruse theological disputes, human blood has been shed for thousands of years… The paradox is that the very religious groups who have been persecuted for religious deviation are frequently animated by a spirit of intolerance when encountering other beliefs.”

Later sou ek berig ontvang dat Regter Basson uitspraak sou lewer op die 28ste Augustus.

Wat daarna gebeur het, is waarskynlik aan julle bekend. Die hof het in my guns uitspraak gelewer. Moreletapark het ’n tyd gehad waarin hulle kon besluit of hulle appél wou aanteken teen die uitspraak. Hulle het nie.

Deel van die hofbevel was dat hulle my verskoning moes vra, en ek het ’n e-pos, en later ’n geregistreerde brief van hulle ontvang waarin hulle dit gedoen het. ’n Algemene vraag hierdie tyd was wat my gevoel was rondom die verskoning wat ek ontvang het, en ek onthou dat daar in die media heelwat daaroor geskryf is. My antwoord was eenvoudig dat dit (die verskoning) as regsdokument gelees moes word aangesien dit deel van die hof se uitspraak was. Ek wou my nooit uitlaat oor presies hoe ek oor dié brief gevoel het nie. Na ’n jaar kan ek egter steeds nie ’n hart in hulle brief sien nie. Daarom ook dan nou die besluit om vir die eerste keer die brief volledig hier te plaas vir die lesers.

Is ek kwaad vir hulle? My aanvanklike reaksie sou ongetwyfeld ja gewees het. Maar in die jaar wat sedert die uitspraak verloop het, het dit al hoe duideliker aan my geword dat dit met my moes gebeur; dat die Here met my ’n bepaalde pad wou stap. VuurKairos is gebore uit hierdie proses, en ek kon heelparty stukkende mense van hulp wees deur my ervaring met hulle te kon deel. Soms moet mens eers self gewond raak voordat jy ’n helpende hand na ’n ander kan uitreik.

Ek hoop dat ek in dié proses dit kon regkry, al is dit in beperkte maat, om die lewens van gay mense te kon normaliseer in terme van verhoudings, geloof, eerlikheid. En volkome menswees as gay gelowiges.

Dankie dat julle ook vir my daar was die afgelope jaar, en (dalk onbewustelik) hierdie pad saam met my gestap het. Ek sien uit na die volgende jaar.

Groete,

Johan Strydom

scan0001

3 responses to “‘n KERK VOOR DIE REGBANK: ‘n HERBESOEK AAN 11 – 13 AUGUSTUS 2008

  1. Warren Blignaut

    Ek was voorwaar in my hart geroer, nie net oor die feit dat dit ‘n ongelooflike moeilike pad vir jou moes wees nie, maar omdat ek ook deur ‘n baie pynlike en bitter tyd gegaan het toe ek, agv die feit dat ek gay is, onder sensuur geplaas was en nie meer in die musiek-span kon bedien nie. Ek het uit die aard van die saak die gemeente waar ek bedien het verlaat en bedien nou as Worship Leader by ‘n gemeente in Pretoria. Ek dank die Here dat Hy ‘n pad met elkeen van ons stap en dat ek opnuut weer bewus kon word van God se onvoorwaardelike liefde vir my. Mag die Here jou bediening ryklik seën.

  2. Ek is een van die wat, nie onbewustelik aan my kant nie, maar wel sonder dat jy daarvan bewus was saamgestap het. Dankie vir die werklik maak van hierdie stukkie van jou pad vir ons. Ek dink aan ‘n quote van Dr. Cornel West: “Never forget justice is what love looks like in public.” Ek sien nog ‘love’ nog ‘justice’ in hierdie ‘verskoning’. Dis great dat jy by ‘n punt kan kom dat jy hierdie ervaring positief kan beskou, mmar ek hul to omdat dit gebeur het, en aanhou en aanhou gebeur

  3. Wow Johan, ek vind veral jou eerlike omgaan met die ‘kwaad’-wees waardevol. En dat jy dit in die proses omgesit het in dit wat goed is. Doe so voort! – Dankie Laurie vir die pad wat jy ook saamstap (Red.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s