DIE ANDERSTER DOPPERDOMINEE

Die stof oor die sinodebesluit van die Gereformeerde Kerk sowat vyf weke gelede oor vroue in die amp, het nog nie gaan lê nie. Sekere Doppergemeentes het egter anders besluit. Wat vir my opvallend was van dié artikel, was die hart van Johan Fleischman wat gesien kan word in die onderhoud. Ek wil myself verstout om te vra hoe ver dié denominasie nog moet stap om ook gay lidmate in die amp toe te laat. Gelukkig is daar Johan Fleischmans daar buite wat vir ons hoop gee…

RAPPORT berig:

08/08/2009 14:00 – (SA)
Hanlie Retief gesels met Dopperdominee Johan Fleischman

“Ons wil nie mense buite hou nie, hulle moet kan binnekom. Maar om ons kerkgebou is daar so ’n hoë elektriese heining wat sê: bly uit.”

Dié heining het vir ds. Johan Fleischmann van die Gereformeerde kerk Kaapstad ’n pynlike simbool geword van soveel “versperrings” in die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) – soos die afgelope sinodebesluit om vroue nie tot kerklike ampte toe te laat nie.

Vir Fleischmann is dit net nóg ’n manier om “mense uit te hou”.

Sy gemeente het nou, ná 30 jaar se “sobere debat”, Linden en Wapadrant se voorbeeld gevolg deur te sê: vroue, wélkom!

“Ons maak nie ’n statement soos Martin Luther wat griewe teen die kerkdeur vasspyker nie. Ons volg maar net stil in die Here se voetspore. Ons wil op g’n manier die ouens wat sterk voel oor die sinodebesluit te na kom nie,” sê hy in bedaarde Dopperstyl.

Agter hom lê die skaduwees van jare se Dopperdominees, strak in swart manelle, ’n Psalm op die tong. So anders as dié man hier met Woolworths-koffie in Willowbridge, Bellville.

Linnehemp, lang, swart baadjie, ontwerpershorlosie, byna-borselkop, blou oë wat op hierdie reënoggend inneem en opsom.

Modebewuste herder van die kudde in ’n nuwe era.

“Elsje Buchner sê ’n baie waar ding: iemand op die Kaapse Vlakte lees Psalm 23 baie anders as ’n boer in die Bosveld.”

Sy stadsgemeente soek leiding uit die Skrif vanuit ’n ánder verwysingsraamwerk as gereformeerdes in, sê maar, die meer konserwatiewe Potchefstroom. “En dan maak hulle, in Kaapstad én Potchefstroom, in opregtheid uiteenlopende gevolgtrekkings.”

Ironies, verduidelik Fleischmann, sê die Bybel niks oor vroue in kerkampte nie. “Mens lees dinge in die Bybel en maak sekere gevolgtrekkings, en dan maak jy gevolgtrekkings van gevolgtrekkings.

“Miskien is dit ’n gevaarlike ding om te sê, maar dis wat in my hart is: ’n sinodebesluit soos dié is eintlik téén ons gereformeerde beginsel van om te hou by die kern.”

Maar van waar, Gehasi? Hoekom is vroue-ampte hier in die 21ste eeu nog énigsins ’n debatspunt?

“Dit wás frustrererd om drie weke by ’n sinode te sit waar sulke sake bespreek is.”

En toe moes die arme leraar teruggaan en sy vrouelidmate in die oë kyk wat hom vra: Is ons dan minder méns?

“Sê jy vir hulle dis nie wat die sinode bedoel nie? Troos mens ’n verwonde hart met koue Skrifdissektasies? Hoe troos jy die man wat te skaam is om vir sy vrou te sê wat die manne oor haar besluit het – sy moet dit maar môre in die koerant lees?”

En toe kies Johan Fleischmann en sy kerkraad vír vroue, toe kies hulle die pad van genade.

Hulle kies: “Om nié teks op teks te dissekteer totdat alle lewe weggesny is nie. Nié ’n teks soos ’n stempel van toeka oor te bring en sommerso op nóú af te ets nie. Om met die kop te werk, maar óók met die hart. Om heel te word as gemeente.”

Hy verwag nie tugstappe nie. “Die swaartepunt in die Gereformeerde Kerk lê in die gemeente, nie in die sinode nie. Die sinode skryf voor, maar die gemeente pas toe. Die sinode kan dus nie ’n kerkraad tugtig nie.”

Hy dink ook nie dinge kan ontwikkel tot ’n kerkskeuring nie. “Maar ek dink as die besluit na die ander kant toe geval het, dat vroue wél in ampte mag wees, dan hét die kerk geskeur.”

Dit kan ook nou met Kaapstad gebeur dat sy attestate nie deur ander, konserwatiewer gemeentes aanvaar word nie.

“Maar as ’n lidmaat uit ’n konserwatiewe gemeente hiér aanklop, dan sê ek vir daai lidmaat (met ’n groot glimlag) wélkom hier in ons geloofsgemeenskap, ons is lief vir jou.”

Dis al vyf weke later, maar die stof oor dié sinodebesluit het nog lank nie gaan lê nie.

“Bepaald. Ek dink die debat het nog net bolangs begin rondkrap. Dit sny veel dieper as net vroue-ouderlinge.”

Johan Fleischmann se persoonlike geloofsreis het hom daar gebring waar hy begin vra het: Hoe het jy ’n volle verhouding met die Here?

“As jy net met jou verstand na die Bybel luister, het jy dan die stem van God gehoor?

Hy verduidelik: “In Genesis sê die Here ‘man én vrou het Hy hulle gemaak’. God se beeld word weerkaats deur die samekoms van manlikheid én vroulikheid.

“Met ons besluit wil ons juis vroue in leierskapsposisies hê met ’n nuwe soort leierskap, ’n vróúlike een, een met compassi on, met intuïsie, met omgee. Nié vroue met ’n tipiese manlike persoonlikheidsprofiel nie, want dan’s dit net meer van dieselfde.

“En die hart-pad is nie flashy geesdrywery nie, nie juig en hande klap nie, dis glad nie waaroor dit gaan nie.”

Sélf was dit vir hom ’n klippepad om hierby uit te kom, hoor jy. Terg verleërig as jy hom daaroor uitvra: “Hoeveel ure het jy?”

Hy was ’n produk van onderwys-ouers, Hoërskool Linden, diensplig. Altyd ’n linkerbrein-ou. Tipies manlik. Góéd gepas in die Dopperkerk.

“Toe gebeur daar ’n paar goed in my lewe.

“As kind was ons Randburg-dominee nie in ’n boks nie, ek onthou hom in sy corduroy-broek op sy scooter. Hy’t dié ding van ’n volledige mens nogal verstaan. By hom het ek ’n groot stuk geloof geleer.

“Die Here het ook vir my ’n stunning vrou gegee wat tipiese vroulike goed in my lewe gebring het.”

En sy’s nie die worthy woman-soort wat haar man met kookolie salf soos Gretha Wiid en Kie.nie, verneem jy.

“Daai my-man-is-koning-ding – so ’n vrou wil ek nie hê nie. Ek soek ’n lewensmaat, ’n mens wie se vaardighede en menswees ek bewonder, wie se lewe my verryk.”

En dan kyk hy weg. Sien niks. Dis ’n rukkie stil voordat hy verder praat.

“Daar was ook ’n derde ding …

“Ons dogtertjie is tien jaar gelede dood, net voordat sy sewe geword het. Sy’s gebore met ’n seldsame hartsiekte. Daai ses en ’n bietjie jaar se geloofspad met die Here het my laat besef daar’s nie net manlike, outoritêre, ra-sionele antwoorde nie.

“Die dag toe ons haar begrawe het, met die mense reeds in die kerk, het ek en my vrou vir oulaas daar by die kissie na haar lyfie gekyk.

“Toe kom ’n goeie vriendin verby, haar twee kindertjies aan die arm. En sonder om ’n woord te sê, kom gee sy ons ’n druk, hou ons ’n halfminuut styf vas …

“Dit was nie haar arms nie, dit was Jesus s’n. Ek het dit belééf. Dís wat vroulike leierskap is. Geen manlikheid kon ons daar troos nie, maar sy’t ons vasgehou.”

Sy oë blink.

“Jy sê ek lyk nie soos ’n Dopperdominee nie, maar dis omdat my buitekant wys hoe ek aan my binnekant lyk.

“Dalk trek dit mense aan, dalk stoot dit mense weg, maar dis wie ek is.

“Jy kyk rond by die sinode, en die meeste lyk nie soos jy nie. Maar dit maak nie saak nie, glád nie, want die Here het sy eie reis met elkeen van ons.”

Is daar emosionele druk op hom? Oor hy rebels en te “anders” is, “die pad byster raak”, met sy gemeente op sleeptou?

“Beslis, ja.”

Hy glimlag. “Dis onbillik, maar dis te verwagte. In hul verwysingsraamwerk is daar nie ruimte vir mense soos ek nie.”

Dit was ’n goeie samekoms, hoor jy, tussen hom en die Kaapstad-gemeente waar hy nog maar anderhalf jaar is.

“Ons probeer sáám ruimtes skep waar mens ten volle gelowig kan wees. Ons vra nie wie ons moet weghou nie, maar wie ons kan nader trek.”

Hy vertel van ’n diep gelowige vriendin wat nou die formele kerk verlaat. Christene wat tradisionele kerke verlaat, lê hom swaar op die hart, “want daar’s die diep psigiese ding om saam met ander te wil aanbid. As jy by die graf van jou kind staan, moet daar ’n mens wees wat die Here stuur om jou vas te hou. Waar kry buitekerklikes dit?

“Ek het hoegenaamd nie ’n antwoord daarop nie.”

Hoe voel dit om vandag Johan Fleischmann te wees?

Hy glimlag, oop.

“Lekker. Lékker. Want die Here loop ’n pad, ek weet nie waarheen dit lei nie, maar dis goed om saam met Hom te loop.”

En daardie elektriese heining om hul kerk? Kom kyk oor ’n jaar, dan’s dit verwyder.

“Dit gaan óóp wees voordeur toe.”

Oop. Hóóp.

20090808135134johanfleischman

One response to “DIE ANDERSTER DOPPERDOMINEE

  1. wat ‘n fantasties artikel! Ek wonder baie waar om die energie te kry om die stryd voort te sit in ‘n kerk wat dikwels lyk of sy nie wil verander nie! Johan Fleischman is ‘n voorbeeld wat die vlam van hoop hoog laat brand te midde van hopeloosheid!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s