STRATE TOE!

Strate toe!

"To dehumanize anyone is to reject the face of God that sanctifies the faces of all humanity" – John de Gruchy

Dit is "strike season". So sien ons daagliks op TV-nuus, in koerante en in die strate waar vakbonddruk in terme van die voetval van toyi-toyi-endes gemeet word. Salarisse word heronderhandel en munisipaliteite maak beloftes. Dienslewering is een van die ander kwessies wat strate toe gevat word sodat die Zuma-regering sy Polokwane- en verkiesingsbeloftes nie mag vergeet nie.

Komende Vrydagoggend vat ons in Kaapstad ook die strate oor ‘n kwessie wat onder meer met swak dienslewering te doen het. Dit gaan oor die kriminele regstelsel wat faal om geregtigheid vir Zoliswa Nokonyana te bring wat reeds in 2006 wreedaardig vermoor is omdat sy lesbies is. Die hofsaak in die Khayelitsha magistraatshof is al 20 keer uitgestel en daar word nou geëis dat dit na die Hoërhof verskuif word (Lees meer hieroor in “By” https://vuurkairos.wordpress.com/2009/08/01/by-n-litanie-van-haat/).

Maar wat het ‘n swart lesbiese vrou uit Khayelitsha met my te doen, sou jy my kon vra. Dit gaan natuurlik om meer as net een vrou. Dit gaan ook oor die Banyana-Banyana-ster Eudy Simelane wat om dieselfde rede as Zoliswa verlede jaar in Attridgeville vermoor is: Omdat sy gay is. Dit gaan om die 9 manlike verkragtings wat in Februarie in Kaapstad aangemeld is. Dit gaan oor homofobiese haatmisdaad en oor haatmisdaad in die algemeen. Dit gaan oor haat-verkragting waarna lank as "korrektiewe verkragting" verwys is omdat mans glo hulle maak van lesbiese vroue "ware vroue" daardeur. Dit gaan dus ook oor die vrees vir dit wat "vreemd" of anders is – hetsy dit in die vorm van homofobie, xenofobie of geweld teen vroue uiting vind. Maar daarom gáán dit ook om één vrou wie se lewe genoeg werd is dat daarvoor geregtigheid en menswaardigheid geëis kan word. Indien één vrou (juis in Vrouemaand) se lewe nie meer genoeg vir ons is om voor op te staan nie, loop die samelewing gevaar om sy eie menslikheid te verloor!

Ek kan verder hiermee identifiseer omdat ek op ‘n stadium aan my eie lyf ‘n ervaring gehad het wat soos ‘n publieke verkragting gevoel het. Om met jou menslikheid daarvan af te kom is die Godswonder! Maar in bogenoemde gevalle moet die menslikheid van Zoliswa, van Eudy, van Waldo Bester en soveel ander wat op die een of ander manier hierby betrek is, nog bevestig en herstel word. Dít gebeur onder andere wanneer daar geregtigheid teenoor hulle nagedagtenis en teenoor hulle families en vriende, geskied. Hiervoor is die land se hofstelsel verantwoordelik. Waar dit hulle en ons faal, is ons in die moeilikheid!

Terwyl ek ‘n onervare “marcher” is en baie van ons onseker hieroor mag voel, nooi ek julle om saam met my te kom leer hoe om die burgerlike samelewing op hierdie manier te versterk. Iets gee my die idee dat ons in die nabye toekoms die oefening meer dikwels nodig gaan kry om vir ons duur verworwe regte – en dié van ander – op te staan, Hiervoor is dit myns insiens nodig om ‘n breë solidariteit wat oor grense gaan, te bou. Ek is bly dat hierdie blog die afgelope maande gesig kon help gee aan so ‘n gay-straight-vrou-man-bruin-wit-jong-ouer-“closeted”-uit-leke-teoloog-Engelse-Afrikaanse-VGK-NGK-Anglikaanse-Pinkster-solidariteit. Ons kan, ja?

– Laurie Gaum

march invite 2

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s