By: ‘n Litanie van haat

By: ‘n Litanie van haat
Jul 31 2009 05:48:29:547PM – (SA)

Dit staan bekend as "korrektiewe verkragting" – waar mans glo hulle kan lesbiërs "genees" deur hulle te dwing om seks te hê. WILLEMIEN BRÜMMER het ondersoek ingestel na hierdie versluierde misdaad.

Toe die halfnaakte liggaam van die voormalige Banyana-Banyana-ster Eudy Simelane verlede jaar gesig ondertoe in ’n vlak rivier gevind is, het dit uiteindelik gelyk asof ’n tot onlangs versweë misdaad ’n indruk sou maak op die nasionale gewete: Simelane (31), ’n uitgesproke aktivis vir gay regte, is op 5 Mei naby haar ouerhuis in Kwa-Thema, Gauteng, deur ’n groep mans verkrag, geslaan en verskeie kere in die gesig, bors en bene gesteek.

Die verhoor duur voort, maar een van haar moordenaars, Thato Petrus Mphithi, het in Februarie vanjaar skuld beken in ’n stampvol hofsaal in Delmas. Hy is tot 32 jaar gevangenisstraf gevonnis – ’n oorwinning in die kleine.

Ander onlangse gevalle lees eweneens soos ’n litanie van haat: Sowat ’n maand ná die moord op Simelane is die liggaam van ’n 25-jarige lesbiër, Khanyiswa Hani, in New Brighton, Port Elizabeth, ontdek. Haar jeans was om haar knieë, haar tande uitgestamp, haar liggaam vol meswonde en haar keel afgesny.

Nog ’n maand later is die brutaal verminkte liggaam van die 21-jarige lesbiër Sibongile Mphelo van die Strand in ’n oop stuk veld sowat 500 m van die polisiekantoor gevind. Sy is nes die ander verkrag, maar sy’s ook geskiet, haar vagina is uitgesny en ’n gedeelte van haar kuit is afgesny. Tot op hede het die polisie nog niemand in hegtenis geneem nie.

Sedert 2006 is minstens sewe lesbiërs op hierdie grusame wyse vermoor, maar die moord op Simelane het tot die enigste skuldigbevinding gelei. Die meeste van hierdie gevalle is hoogstens in ’n paragrafie iewers op bl.14 van ’n plaaslike koerant genoem. Was dit nie vir die pogings van organisasies soos Triangle Project, aan die voorpunt van die 07-07-07-veldtog teen haatmisdade teen lesbiër, gay, biseksuele, transgender en interseks (LGBTI) mense nie, sou die polisie hulle waarskynlik min aan dié vroue gesteur het.

’N ‘GUNS’ AAN LESBIËRS

Bogenoemde is egter die heel ergste, wreedste voorbeelde. In Suid-Afrika word sogenaamde LGBTI-mense daagliks aangeval om die eenvoudige rede dat hulle “anders” is. Veral swart lesbiërs, vroulike gay mans en transseksuele mense in townships en landelike gebiede word blootgestel aan haatmisdade wat wissel van verbale en ander vorms van teistering, fisieke en seksuele geweld, intimidasie, dakloosheid, bekruiping en ontvoering.

’n Misdaad wat die afgelope jare kommerwekkende afmetings aangeneem het is sogenaamde “korrektiewe verkragting”, waar die daders dink hulle doen hul slagoffers ’n “guns”.

Verlede jaar het ’n studie deur Triangle Project onthul ’n volle 86% van swart lesbiërs in die Wes-Kaap leef in vrees vir seksuele geweld. Uit onderhoude wat die gemeenskapswerker en aktivis Zanele Muholi in townships rondom Gauteng gedoen het, blyk 20 uit die 47 vroue wie se lewensverhale sy opgeteken het, is verkrag spesifiek omdat hulle lesbies is.

Vanjaar het ’n verslag deur die internasionale nie-regeringsorganisasie ActionAid, gerugsteun deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, ’n dringende beroep gedoen dat sogenaamde haatmisdade, insluitend die verkragting van lesbiërs, as ’n aparte misdaadkategorie beskou moet word deur owerhede in Suid-Afrika.

Volgens Marlow Valentine, adjunk-direkteur van Triangle Project en sameroeper van die Wes-Kaapse 07-07-07-veldtog, het die voorkoms van genderverwante geweld dramaties gestyg oor die afgelope vyf jaar.

“Ons is baie bekommerd daaroor dat daar nog nie ’n amptelike poging was om veral iets te doen aan die geweld teen swart lesbiërs in townships en landelike gebiede nie. Ons vind ook dat die geweld teen transseksuele mense toegeneem het, en dat dit nie ernstig opgeneem word nie.”

Hy vertel van die moordverhoor van die lesbiër Zoliswa Nkonyana (19) in die Khayelitsha- landdroshof wat nou reeds sedert sy aanvang in Desember 2006 gekenmerk word deur ’n onbeholpe regsproses. Tot dusver is slegs nege van haar aanvallers (daar was minstens tien) in hegtenis geneem en die verhoor is al 20 keer uitgestel.

Volgens Sharon Cox, ’n berader by Triangle en hoof van gesondheid- en ondersteuningsdienste by dié organisasie, tree Zoliswa se vriendin wat die moord aanskou het, op as hoofstaatsgetuie. Sy is dus onder polisiebeskerming. Tog het die polisie dit goed gedink om haar op pad na die verhoor die heelpad van die Oos-Kaap agter in ’n polisievangwa te vervoer saam met misdadigers.

Sy het in Desember 2008 begin met haar getuienis, maar weens verdere vertragings is sy nog nie kruisondervra nie. Die verhoordatum is nou vasgestel vir 28 September, wat beteken die ondervraging sal eers tien maande ná haar eerste getuienis gebeur, en drie jaar en agt maande ná die misdaad.

Valentine meen die houding van die owerhede en dié van die oortreders hou ’n direkte verband met Nkonyana en die hoofstaatsgetuie se seksuele oriëntasie.

“Wanneer die oortreders in die hofsaal instap, is dit soos ’n sirkus vir hulle, want hulle lag en waai vir hul meisies in die galery en hulle geniet enorme steun van die gemeenskap.”

Tydens een van die hofsittings het Zoliswa se vriendin volgens Cox selfs een van die aanvallers gesien wat nie in hegtenis geneem is nie. “ ’n Paar minute later het een van die speurders verbygeloop en ek het hom daarop attent gemaak, maar niemand het iets daaraan gedoen dat hy daardie dag in die hof was nie.”

‘AL WAT JY NODIG HET, IS ‘N PENIS’

Minstens is die saak voor ’n landdros aangehoor. Indien die vroue nie soos Nkonyana sterf nie, sê Cox, word bitter min van die gevalle selfs aangemeld.

“Ek hoor keer op keer in my sessies met die jong vroue dat hulle dit nie wil aanmeld nie, want die polisieman agter die toonbank in hul gebied is ’n buurman of iemand wat hul ouers ken, en hulle is in ’n klein gemeenskappie. Dit beteken jy moet uit die kas klim. Hulle is beskaamd.

“Wat jy ook dikwels hoor, is dat hulle vriende was met die verkragter. Wanneer die vriendskap tot op die punt kom waar die vroue gemaklik voel om te erken hulle is lesbies, word hulle verkrag. Indien die vrou dit wel aanmeld, sal die polisie dikwels sê hulle glo haar nie.”

Hoekom gebeur so baie van dié verkragtings in townships?

Volgens Valentine moet dié verskynsel gesien word in die konteks van die patriargie in dié gebiede. “Dikwels word vroue se liggame beskou as verbruikersartikels. Ek het besitreg oor jou, dus kan ek met jou doen wat ek wil. Indien jy ’n vrou is wat van vroue hou, en boonop redelik butch lyk, dan is die redenasie: jy wil ’n man wees, so ek sal jou soos ’n man behandel. Al wat jy nodig het is ’n penis, dan word jy ’n regte vrou.”

Die patriargie word dikwels gekoppel aan Godsdienstige fundamentalisme – ’n dodelike kombinasie, aldus ds. Pieter Oberholzer, direkteur van die interkerklike organisasie Inclusive and Affirming Ministries (IAM). Boonop beskou die daders dit dikwels nie in ’n ernstige lig nie.

“Ek was ’n paar jaar gelede by ’n vergadering oor die verkragting van onder meer lesbiërs, en ’n man het opgestaan en gesê: Jy verstaan nie ons kultuur nie. In ons kultuur is verkragting nie so sleg nie,” vertel Oberholzer.

Dikwels, sê hy, is die verkragters ooms, neefs en broers.

“Dis nie gewone misdadigers nie. Hulle word gemotiveer deur kultuur en ’n misvormde idee van wat God wil hê. Hulle sal nie sê die priester het gesê ek moet dit doen nie, maar die priesters preek ook nie daarteen nie. They turn a blind eye.”

Benewens hierdie skewe idees oor kultuur en Godsdiens, gaan dié soort verkragtings aldus Triangle Project ook oor woede en die wil om te verneder.

“Die overkill in baie van die gevalle toon die ontsettende woede by die dader – dis nooit net ’n geval dat jy vermoor word en een keer gesteek word nie,” sê Valentine. “Daar’s dikwels veelvuldige wonde en verminking, en as ’n laaste teken van my afkeer, los ek jou in ’n oop ruimte.”

REËNBOOGNASIE OP WANKELE AARDE

Maar hoe maak jy sin van hierdie misdade in ’n land waar pienk, wit, swart en geel deur die Grondwet beskerm word; waar homoseksualiteit gedekriminaliseer is en selfs gayhuwelike die ja-woord gekry het?

Die waarheid is dat die “reënboognasie” op wankele aarde staan. Veral nou in die Zuma-era vrees aktiviste dat hierdie haatmisdade kan toeneem. Baie sal nog onthou hoe Zuma in 2006 tydens die erfenisdagvieringe in Kwa-Dukuza gesê het: “When I was growing up an ungqingili (’n gay persoon) would not have stood in front of me. I would knock him out.” Hoewel hy later om verskoning gevra het, het hy ook gesê dat gayhuwelike “die nasie en God tot skande strek”.

Kort voor die verkiesing vanjaar het Zuma by die Rhema-kerk weer die waarskuwingsligte laat flits toe hy Christelike kerkgroepe in Suid-Afrika genooi het om met die regering in gesprek te tree oor “omstrede morele kwessies” soos aborsie en gayhuwelike.

“In Zuma se toesprake steun hy baie sterk op sy kultuur,” sê Valentine. “Jy’t hierdie teenstrydigheid tussen die beleid van die ANC, wat vroue en die rol van vroue in die regering bevorder, maar jy’t ook ’n leier wat ons herinner aan wat dit beteken om mans en vroue te wees in kulture waar vroue onderdanig aan mans is, en beskou word as benede hulle.”

Vergeleke met ander Afrikalande staan die gay- en lesbiese bevolking van Suid-Afrika egter steeds sterk. “Ons het progressiewe wetgewing, ons het toegang tot verskeie howe en gay- en lesbiër- organisasies word toegelaat om sonder vervolging te funksioneer. In baie Afrikalande word hierdie organisasies nie toegelaat nie. Ons is die enigste Afrikaland wat homoseksualiteit gedekriminaliseer het.”

Maar wetgewing dring nie deur tot die binnekamer van die gemoed nie, en volgens Valentine kan dit dekades neem voordat die gemeenskap se houding verander. Intussen dring organisasies soos Triangle aan op wetgewing wat spesifiek op haatmisdade gerig is. “Hierdie soort misdade moet aan meer ernstige vervolging onderwerp word, want dis nie teen ’n individu gemik nie, maar teen ’n groep mense,” sê Valentine.

“Dit behoort deel te vorm van die agenda van politieke partye in ons land. Ons moet homofobie in dieselfde lig beskou as dinge soos xenofobie, rassisme en seksisme. Dit moet beskou word as deel van die stryd om menseregte, en nie net as ’n gaystryd nie.”

’N MIRAKEL IN GUGULETU

Tog is daar ook ligbakens in plekke soos Guguletu buite Kaapstad, soos die naam van die iThemba Lam- (plek van hoop) sentrum hier in Tambo Village aandui. Dié sentrum is in 2006 deur Inclusive and Affirming Ministries (IAM) begin om veral ’n huis van veiligheid vir LGBTI- mense te wees.

Volgens Yvonne Daki, sentrumbestuurder, is baie van die vorige inwoners deur hul families verwerp toe hulle uitvind hulle is gay. “Die familie wil nie hê mense moet weet nie, want die bure sal anders na hulle kyk oor hierdie ‘snaakse kind’ ”.

Een van die huidige inwoners is byvoorbeeld ’n fynbesnaarde Zimbabwiese “vrou” wat met die liggaam van ’n man gebore is. Van kleins af het sy dit verkies om rokke te dra, maar haar lewe het ondraaglik geword in Zimbabwe. Sowat drie maande gelede moes sy vir haar lewe vlug na Suid-Afrika, want die gemeenskap het gedreig om haar ouerhuis af te brand. Nog ’n inwoner is ’n sestienjarige meisie wat huilend vertel hoe sy keer op keer verkrag is.

Volgens Daki was dit aanvanklik vir die relatief konserwatiewe gemeenskap hier moeilik om te verstaan hoekom daar ’n huis spesifiek vir LGBTI-mense moet wees. “Hulle het gedink in die Xhosa-kultuur is daar nie iets soos gay mense nie. Ander het geweet daar is gay mense in hul families, of hulle was self gay, maar hulle het geweet dis ’n taboe in hul gemeenskap. Hulle sou dit dus wegsteek en maak asof hulle nog nooit ’n homoseksuele mens gesien het nie.”

Sy sê aanvanklik het mense in Tambo Village gesê “gays is boos, hulle is snaakse mense”. Sy maak dié bure na. “Hulle praat snaaks, hulle doen snaakse dinge, hulle trek snaaks aan, hulle slaap rond en hulle het demone. Hulle het gevoel hulle moet die demone uit hulle uitslaan of uitbid.”

Gaandeweg het dié sentrum egter begin om aan honger mense in die buurt sop en brood te voorsien – ongeag hul seksuele oriëntasie. Aangesien daar nie ’n skool of ’n saal in Tambo Village is nie, is alle lede van die gemeenskap genooi om hul vergaderings in dié ruimte te hou. Kinders het begin kom om hul huiswerk te doen, en indien iemand sterf in die buurt, weet die “familie” van iThemba Lam eerste.

“Dié sentrum het alles vir die gemeenskap geword,” vertel Daki. “Mense sal sê hulle het hulp gekry by nommer 100, dis wat hulle dié huis noem. Ons help net waar ons sien daar’s behoefte. Hoewel ons nie vir almal sê dis ’n plek vir gay mense nie, weet ons die familielede sal dit verkondig.”

Ds. Oberholzer, in wie se opdrag die huis laat bou is, glimlag breed. “Toe ons aanvanklik die sentrum opgerig het, was ons bang die gemeenskap sou dit afbrand. Ons was te bang om hier buite te skryf dis ’n plek van veiligheid vir lesbiërs en gays, dus het ons geskryf dis ’n ‘Christian Centre for Reconciliation and Healing’.”

Hy lag. “Maar ons het besef as ons aanvaar wil word, kan ons nie net na gays kyk nie, maar na die algemene nood in die omgewing. Dis dié dat die bure nou begin sê het: ‘I don’t care whether gays and lesbians are right or wrong. They are good people.’ ”

Hy kyk deur die venster na die reënboogkleurige ry daar buite: Daar’s onder meer ’n gay prediker, mans wat droom van vroueklere, lesbiërs en gewoon honger mense wat toustaan vir sop en brood. “Dié projek is ’n miracle story,” sê hy.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s