KUISHEID HERBESOEK

Kuisheid Herbesoek

Ds. Rethie van Niekerk

Sondag, 18 Julie 2009

Vroeër vanjaar staan ons gemeente vir ‘n hele kwartaal lank stil by Adele Ahlberg Calhoun se briljante boek “Spiritual Disciplines Handbook – Practices that transform us”.

Sy lys ‘n groot klomp geestelike dissiplines. Vir elkeen gee sy ‘n opsomming van wat dit behels, ‘n kort inleiding, enkele vrae vir oordenking en dan praktiese, doenbare idees vir die beoefening van die dissipline.

Wat die boek veral besonders maak, is haar oortuiging dat ons begeertes die Gees se manier is om ons na ‘n spesifieke behoefte te wys. As jou begeerte byvoorbeeld is “to live an authentically truthful life”, dan moet jy in hierdie fase van jou lewe die dissipline van “Truth Telling” beoefen. Hierdie is een van my nuwe gunsteling boeke, ‘n reisgenoot op die lewe.

As deel van die dissiplines onder “Share my life with others”, lys sy die dissipline van kuisheid (“Chastity”). Ek het dit nie eers gelees nie. “Blah”, het ek gedink. Ek stel beslis nie belang in die dissipline van kuisheid nie. Ek is seker my begeertes gaan nie wys na hierdie spesifieke dissipline nie.

Aangesien ek egter ‘n dominee is en mense deur die verskillende dissiplines moet begelei, het ek verplig gevoel om die hele boek te lees – ook die deel oor kuisheid. Wat ‘n verrassing!

Jy sien, ek het nog altyd kuisheid met sogenaamde “reinheid” verwar. En met laasgenoemde het ek issues. Reinheid gaan, baie eenvoudig gestel, oor plek. Ek was net nog nooit seker of die plekke wat ons samelewing aan mense en goed toesê, noodwendig die plek is wat God daarvoor bedoel het nie. Voeg daarby dat Jesus juis reinheidswette oortree het (deur te eet sonder om sy hande te was, aan onreines te vat – en selfs saam met onrein mense uit te hang!) dan dink ek my suspisie is heeltemal geregverdig.

Goed. So die begeerte wat saam met die dissipline van kuisheid gaan, is “to revere God by receiving and honoring my body and the bodies of others with purity of thought and action.” Daar is die reinheid-ding weer. Maar om God te eer deur my liggaam en dié van ander te ontvang as gawe en dit te eer… dit maak vir my nogal sin.

Op die ou end was ek aangenaam verras deur die dissipline van kuisheid – wat toe al die tyd nie dieselfde as selibaat is nie!

“Healthy chastity is rooted in a deep acceptance of, respect for and protection of the glorious body God has given me and all other human beings.” Nou is dit nie besonders nie? Dink net hoeveel pyn en disfunksie sal verdwyn as ons ons liggame en seksualiteit ontvang as ‘n gawe van God. En dan liggaamlik leef tot God se eer, want jy sien, ons liggame is tog ‘n tempel van God (wat my laat dink aan die ou uitdrukking: “Your body is a temple – decorate it!”). God woon in liggame. Ons aanbid God ook wanneer ons die liggaam wat hy vir ons gegee het, aanvaar, liefhet en versorg. Ditto met ander se liggame. Hierdie is die pakkie waarin ek kom – en waarin God woon. Halleluja!

Dink nou maar net aan Jesus. God in ‘n liggaam. Volledig mens. Met die vryheid om te kies wat hy met sy liggaam gaan doen. Vryheid wat hom in ‘n plek van verantwoordelikheid geplaas het. Jesus het die liggame van ander ge-eer. Hy was vry om toe te laat dat ‘n sondige vrou sy voete masseer. Vry om kinders vas te hou en te seën. Vry om intieme vriendskappe met beide vroue en mans te hê. Vry om kuis te wees.

Jesus is ‘n wonderlike voorbeeld van ‘n man wat gemaklik was in sy eie vel, wat heeltemal vry was om lief te hê. Hy was nie emosioneel dood nie. Hy was vry om partytjies by te woon en met prostitute uit te hang. Hy was nooit veroordelend of uptight by seksueel losbandige mense nie.

So, dit is wanneer ons die liggaam wat God vir ons gegee het, kan eer, wat ons vryheid ontvang om lief te hê. Liefdevolle gedrag versorg, bemoedig, beskerm, maak vry, ontwikkel intimiteit… dit laat ander nooit met ‘n gevoel van skande of skaamte nie.

Die praktyk van die dissipline van kuisheid, is dan volgens Calhoun:

· fidelity in marriage and all relationships

· not using sex as a test of love

· not engaging in sexual behavior that leaves anyone with shame, distress or guilt

· refraining from demeaning sexual jokes and practices

· loving rather than using people.

Ek weet nie van jou nie, maar so gestel klink die dissipline van kuisheid vir my nogal na kosbare dissipline. Dan is ek, sonder die gawe van selibaat, nogal geïnspireer om te sê: Viva kuisheid!

Rethie van Niekerk is ‘n predikant by die NG Kerk Somerstrand in Port Elizabeth, waar sy haar bes probeer om uit die moeilikheid te bly en terselfdertyd die Here se wil te doen. Die gemeente se website kan hier besoek word, of by Klema, hul “nuwe gemeente ontwikkeling”. Somerstrand se droom / visie is om met vreugde te lewe en met liefde te dien vanuit ‘n vaste geloofsverbintenis met Jesus Christus, ons Hoof.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s