ONS – DEEL VAN GOD SE SKEPPINGSRITME

Ons – deel van God se skeppingsritme

Sondag, 11 Julie 2009

Eugene Malan

Ek dink een van die grootste gevare van die lewe is om jouself te verloor. Ek bedoel daarmee dat ‘n mens maklik vergeet wie jy eintlik is. Jy leer jouself ken as die een wat die funksies moet verrig – en dit wat jy waaragtig ook goed doen! Jy leer jouself ken as die een wat goed is met iets of met mense. Ons sien onsself deur die bril van ons bekwaamheid en nuttigheid in die samelewing… wat van ons kommoditeite, verbruikersartikels gemaak het. En so dink ons is ons. ‘n Besige wêreld het van ons besige mense gemaak wat ons identiteit dienooreenkomstig bepaal.

Daarom het God op die sewende dag van sy skeppingswerk gerus, en ons deelgemaak van sy skeppingsritme deur vir ons die opdrag te gee: rus! Sewende dag is sabbat, wat letterlik beteken: stop, quit, vat ‘n ruskans. Wat jy ookal doen, hou op daarmee; wat jy ookal sê, bly stil. Gaan sit, neem ‘n diep asemteug en wees bewus van alles om jou. Bewonder dit. Sien jouself as deel van God se groot skeppingswerk oor wie Hy sê: “dis goed, dis baie goed”. Die sewende dag, sabbat, is nodig sodat ek myself kan sien soos ek is. Dié dag onderbreek die werk van ses dae en kom oriënteer alles wat ek gedoen het aan my plek in die skepping. Dan, na die sabbat, kan ek sinvol gaan leef en werk. Die sabbat raak ons intreeplek vir deelname aan God se werk in die skepping, want ons weet nou wie ons is: nie meer verbruikersartikels nie, maar God se geliefdes.

Mag hierdie rusdag meer wees as een van niks-doen nie. Mag dit ‘n dag wees van God-verheerliking. Mag dit ons aanspoor tot ‘n lewe wat tydhou op God se ritme – die ritme van die skepping wat ons daarvan bewaar om tyd tot geld en funksionaliteit te reduseer, ‘n ritme wat ons laat ophou jaag en onsself laat ontdek soos ons is. Mag dit ons ook aanspoor tot ‘n lewe van liefde teenoor almal – waarin God se geskenk van vrymaking van mense, diere en alles wat God gemaak het, in herinnering gebring en nagestreef word. Mag die sabbat vir ons wees soos wat Jesus dit kom bevestig het: ‘n geskenk om in vrye gehoorsaamheid voor en met God te leef. Mag jou ervaring van gemeenskap van gelowiges, aanbidding en sang vandag vir jou in God se skeppingsritme bring. Mag jy vandag jouself geniet soos God jou geniet.

Hoor die aangrypende woorde van Wendell Berry in sy gedig: Sabbath

The mind that comes to rest is tended
in ways that it cannot intend:
Is borne, preserved, and comprehended
by what it cannot comprehend.

Your Sabbath, Lord, thus keeps us by
Your will, not ours. And it is fit
Our only choice should be to die
Into that rest, or out of it.

Eugene Malan is predikant by die NG Gemeente Hoogland in die suid-westelike voorstede van Port Elizabeth. Die Gemeentebelydenis van die gemeente sê dat [die gemeente] “soos ’n rivier is wat wyd vloei met die lewende water wat God gee. Ons is ’n lewende geloofsgemeenskap, mense wat aan God behoort, wat God se liefde en genade bewys. Die gemeente se leuse is: Geloof deur liefde tot dade (Galasiërs 5:6)”. Besoek gerus die gemeente se webblad.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s