VORIGE PROFIELE

MENSE – JUDITH KOTZÉ

Lidia Theron

 

 

Die lieflike Bougainvillea se helder pienk-oranje in die namiddag son gee ‘n flambojante atmosfeer aan die tuin. Verder na agter lê die lieflike Hottentots-Holland berge. Judith sê dit is die bure se struik wat so pragtig lyk. Dan wys sy vir my dieselfde struik in hulle erf, direk langs dié van die bure, wat weinig blomme aanhet. Wanneer die gesprek tussen ons sy loop neem, vergeet mens maklik van die mooi uitsig, want hier by my is die absolute teenwoordigheid van die vrou wat oorkant my sit.  Judith Kotzé is iemand wat nie sommer maklik geïgnoreer kan word nie!

 

Om ‘n Rolmodel vir ander te wees, moet ‘n mens volgens Judith oor egtheid beskik – jy moet volledig mens wees. Op my vraag of sy dink dit nodig is dat daar vir jong gay mense en ook hulle ouers, rolmodelle in die gay gemeenskap behoort te wees, begin sy eers versigtig praat – asof sy elke woord noukeurig afweeg. Sy is van mening dat dit  baie goed kan wees, al is dit net vir interaksie. Maar op die vraag hoekom dit nodig is, kom die woorde meer spontaan totdat dit uiteindelik soos ‘n waterval uit haar stort.

 

As vertrekpunt gebruik sy haar eie twee wêrelde waaraan sy stelselmatig gewoond moes raak. Sy trek parallelle tussen die twee minderheidsgroepe waarvan sy deel is. Reeds sedert haar vroegste bewuswording was sy deel van ‘n identiese tweeling. Daar was, vandat sy kan onthou, positiewe opmerkings oor hulle gemaak. Mense is oral waarheen haar ouers met hulle gegaan het, na hulle toe aangetrek. Sy het haarself as geliefd ervaar binne hierdie minderheidsgroepie en so het haar identiteit ook ontwikkel.  Eers jare later sou sy uitvind dat alle minderheidsgroepe nie altyd so geliefd is nie.

 

Judith en haar suster Hantie het ‘n sorgvrye kinderlewe in Barkly-Oos gehad. Hulle was die middelste kinders van ‘n skoolhoof en onderwyseres. Judith het reeds as klein dogtertjie besef dat dit vir haar ‘n roeping is om vir die res van haar lewe met God en God se werk besig te wees.  In daardie dae kon vroue wel teologie studeer, maar is nie op die preekstoel van enige van die susterkerke toegelaat nie. 

 

In die Oos-Kaap wanneer die sneeu dikwels in die winter dik gelê het, het laerskoolkinders dit as ‘n heerlike tydverdryf gedurende pouses geniet.  Hulle het ‘n skaatsbaan aan die koue kant van die skool gemaak deur die sneeu vas te trap totdat dit hard genoeg was om op te skaats. Tydens een so ‘n skaats-episode het haar voete, as gevolg van die momentum en die lengte van die skaatsbaan, onder haar uitgegly en sy het op haar neus te lande gekom.  Die val het uiteindelik tot ‘n operasie waarin haar neus herstel moes word, gelei. Na die operasie, in die weerlose toestand waarin die narkose haar gelaat het, het sy – om haar eie woorde te gebruik – ‘al haar inhibisies verloor’ en in trane vir haar ma vertel dat sy nie meer wil stilbly oor haar roeping om vir predikant te gaan studeer nie.  Dit was vir haar ‘n groot verligting om dit hardop te kon deel en haar roeping is verder deur haar ma se goedkeuring bevestig dat sy dit waarvoor sy geroepe voel, moet doen. Judith sal dit altyd as ‘n hoogtepunt in haar lewe beskou dat haar ma nie vir ‘n oomblik geweifel het nie en ook nie voorgestel het dat sy eerder vir ‘n maatskaplike werker moet gaan studeer nie. Hierin het sy reeds as rolmodel uitgestyg deurdat sy teen alle teenstrydighede in, haar roeping verwesenlik het.

 

Hantie het ook jonk reeds dieselfde besluit geneem. Maar sy was bang dat die familie sal dink sy volg net vir Judith na, daarom het sy haar besluit eers jare daarna bekend gemaak. Nadat hulle gematrikuleer het, het hulle eers na die Suid-Afrikaanse Leër Vroue Kollege in  George gegaan om meer lewenservaring op te doen, maar ook om bietjie ouer te word.  Sy roep hierdie ervaring met aangename gedagtes in herinnering.  Daarna het hulle vir ‘n verdere jaar by die Staande Mag aangesluit, terwyl hulle deeltyds Grieks en Hebreeus by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat begin studeer het en geld gespaar het vir voltydse studie.  Eers daarna is hulle na Stellenbosch se Teologiese Fakulteit vir die studies waarna hulle nou reeds lank uitgesien het.  Judith het vir twee jaar op die Studenteraad van die Universiteit gedien. Sy het uiteindelik in 2001 haar M.Th verwerf.  Haar verhandeling hiervoor het gehandel oor INTERRELIGIEUSE DIALOOG as MODEL vir die INTRA-GELOOF GESPREK rondom  SEKSUELE ORIëNTASIE.

 

Aanvanklik het beide die susters hulle self eerder as a-seksueel en nie as homo-seksueel nie, ervaar.  Judith sê as sy nou daarna terugkyk, kan sy dit toeskryf aan hulle bedrywige akademiese en sosiale lewe en die feit dat hulle in hulle eie minderheidsgroepie nie veel meer behoefte op daardie stadium gehad het nie.  Judith was, terwyl sy nog studeer het, vir 4 jaar lank in ‘n verhouding met ‘n medestudent. Sy was nie eens bewus daarvan dat sy nie op die ‘regte’ seksuele manier aangetrokke was tot die man nie. Vir haar was dit normaal, sy het nie van ‘n ander manier geweet nie. Totdat die man met wie sy in  verhouding was, daaroor gepraat het dat hulle nie op pad is iewers heen nie. Toe eers moes sy besef dat dit ‘n werklikheid is.  Sy het dit ‘n saak van gebed gemaak en vir God gevra om vir haar te wys of sy dan die gawe van die selibaat ontvang het. Nie lank daarna nie het sy besef dat sy meer aangetrokke tot vroue voel en soos Hantie ook homoseksueel is.  Ook moes sy erken dat God haar nie die gawe van selibaatheid gegee het nie, maar haar uitnooi om haar seksualiteit te omarm en uit te leef.

 

Opeens bevind sy haarself in ‘n minderheidsgroep wat nie noodwendig ‘n positiewe ervaring is nie. Met ‘n etiket van ‘homoseksueel’ om die nek, word haar hele menswees verskraal tot die seksuele ten spyte van haar hoë standaard van opvoeding en tersiêre kwalifikasies.  Sy voel dat sy baie meer is as net ‘n seksuele wese, dat sy baie ander hoedanighede ook het.  Terselfdertyd wil sy ook nie haar seksuele kant ignoreer nie. Sy tref die vergelyking dat net soos ‘n sjef kunstig omgaan met die kos wat hy voorberei om uiteindelik voor te sit, ‘n mens jou eie seksualiteit moet ontgin as Christen en as vrou. Vir haar is dit juis die spontane ontdekking van die seksuele wat haar identiteit en liefde vir ‘n vrou bevestig. Sy en haar lewensmaat is reeds vir nege jaar lank saam en is twee jaar gelede, toe dit moontlik geword het, getroud.

 

Haar raad aan jongmense wat besef dat hulle gay is, is eenvoudig om nie die rol van slagoffer in te neem nie. Ook nie om te dink dat hul seksuele oriëntasie hulle veroorloof om ‘n verkeerde pad te loop of ander mense daardeur seer te maak nie. Sien dit eerder as ‘n gawe om jou eie menswees en seksualiteit te ontgin en te ontwikkel en nie as ‘n vloek nie.

 

Sy is van mening dat die boekies wat ouers gebruik om kinders se lyflike verandering en seksuele ontwikkeling aan hulle te verduidelik, uitgebrei moet word om ook aan kinders te verduidelik dat seksuele oriëntasie verskillende vorme aanneem: Dat dit nie ‘n keuse is nie maar ‘n gebore gegewe.

 

Judith is die afgelope dekade by Inclusive & Affirming Ministries betrokke as navorser en projekbestuurder. Sy is ook as senior opleier betrokke by die KAIROS-stigting se More to Life-lewensvaardigheidsprogram. Voor dit was Judith werksaam by die NG Kerk-bediening as predikant en pastorale werker.

 

Daar was ook ander hoogtepunte in haar akademiese en persoonlike loopbaan. Eerstens was dit toe haar kerk teen die einde van 1990 bekend gemaak het dat vroue in die amp as predikant bevestig mag word. Dan ook toe haar geboorteland ‘n huwelik tussen mense van dieselfde geslag einde 2006 wettig gemaak het,.

 

Een van die gebeurtenisse in haar lewe wat sy as ‘n besondere voorreg beskou, is haar insluiting as een van 18 mense in die Algemene Sinode van die NG Kerk se Taakspan oor Homoseksualiteit, wat saamgewerk het om voorstelle te maak aan die Algemene Sinode in 2007. 

 

Judith het haarself op vele maniere bewys as rolmodel en ‘n mens kan dit soos volg opsom.

Sy het haar ‘andersheid’ erken.

Sy is ‘n rolmodel weens haar eerlikheid.

Sy het teen alle teenkanting in haar roeping vervul.

Sy gebruik haar talente om bo die normale uit te styg.

 

Toe ek begin oppak, kyk ek na die vrou voor my en dink dat sy my nie hoef te vertel van haar geloof nie omdat dit uit haar hele wese uitstraal.  Dan dwaal my oë weer na die pragtige Bougainvillea wat in baldadigheid in die bure se erf blom.  Ek kyk ook na die een wat net so pragtig groei; net met minder blomme. Ek dink daaraan dat groei en blom deur worsteling kom.  Opeens tref die gedagte my dat hulle anders lyk… maar tog ook maar eenders!

 

 

MENSE – DR JEAN DU PLESSIS

Lidia Theron

 

 

Kyk jy by die wye vensters uit, sien jy die see van oos na wes in sy blou glorie daar lê. Seilskepies lê stil op die windlose see met nog net wandelaars op die strand, want die lug is nog ‘n bietjie fris vir swem. Jean du Plessis vertel dat hy en sy lewensmaat Danie Smit, ‘n bekende in musiekkringe, elke dag met waardering besef dat hierdie uitsig aan hulle behoort. Selfs op die dae wanneer die see grou en onstuimig is, want ook dan is dit ‘n uitsig om te waardeer.

 

Terwyl Jean die geurige, sterk koffie wat hy gebrou het inskink, haal Danie koekies uit ‘n blik en sê: “Hierdie koekies is die lekkerste; Jean se suster s’n mag mooier lyk, maar dié wat hy gebak het smaak lekkerder!”  Terwyl daar koffie gedrink word, kom die gesels sommer maklik, met Jean die spontane en Danie die stiller een met die fyn humor wat in sy mooi helder blou oë dans. Tussen die twee is daar ‘n gemaklikheid wat getuig van die vyf-en-dertig jaar wat hulle reeds lewensmaats is.

 

Wanneer daar tot ernstiger gesprek oorgegaan word, sien jy dadelik vir Dr Jean du Plessis, ywerige deelnemer aan briewerubrieke in verskeie koerante, maar veral in die Kaapse dagblad, Die Burger. Dan kom die man wat altyd sal baklei vir dit waaraan hy glo, te voorskyn. Selfs in die boek Oor gay wees wat Jean ‘n paar jaar gelede laat uitgee het, het hy die belangrikheid van rolmodelle in die gay gemeenskap benadruk. Hy vertel dat hy in sy privaatpraktyk as kliniese sielkundige, steeds bewus word van hierdie groot behoefte. Nie net vir jong gay mense wat op die drumpel staan om uit die kas uit te kom nie, maar ook vir hulle ouers, onderwysers, geestelike leiers, eintlik vir enige persoon wat met gay mense te doen het.

 

Hy het baie definitiewe idees rondom die vereistes waaraan iemand moet voldoen om as ‘n rolmodel gesien te word. Voordat jy iemand kan wees waarna ander jong gay mense kan opsien, moet jy self uit die kas uit wees. Jy moes al vrede kon maak met jou eie seksualiteit en oriëntering. Jy moet nie meer in geheimhouding leef en bekommerd wees wat ander mense van jou dink nie. Slegs dán kan jy iemand wees wat vir ander mense leiding gee.

 

Hy praat oor sy lewe vandat hy ‘n jong seun op ‘n plattelandse dorpie was, tot waar die lewe hom vandag gebring het. Hy het toegewyde ouers gehad wat ‘n prominente rol in die kerk en samelewing gespeel het. Vir hom was hulle rolmodelle en hy probeer steeds om, met hulle voorbeeld, ‘n lewe van dankbaarheid en diensbaarheid uit te leef. Net soos honderde ander jong, gay seuns voor hom en ook na hom, het hy met die konflik van innerlike worsteling deur voorbereiding en aanneming in die NG Kerk gegaan. Met die vaste wete dat hy ‘n kind van God is, maar terselfdertyd dat dit vir die kerk nie aanvaarbaar is nie.

 

Hy vertel dat universiteit in die vroeë 1960’s soos ‘n wonderwêreld voor hom oopgegaan het. Daar ontdek hy dat daar ander mense is wat ook soos hy dink en voel; mense wat vrede in hulself gehad het met hul “andersheid”. Hier kom hy ook weer in noue kontak met sy baie begaafde oom, Dr. Hubert du Plessis.  Hubert se huis, wat hy met sy lewensmaat van toe reeds twintig jaar – Dr. Danie Bosman – gedeel het, word ‘n toevlugsoord vir die jong Jean.  Hulle emosionele stabiliteit en energie was vir hom ‘n voorbeeld en as rolmodelle het hulle vir hom in sy studentejare geweldig baie beteken. Maar tog het dit nie sy godsdienskonflik vir hom help oplos nie.  Vir hulle was die oplossing om hulle rug op die kerk te keer.

 

Gedurende daardie jare het hy vir die eerste keer begin deelneem aan die polemiek in koerante, toe natuurlik nog onder skuilname. Toe die “Law Reform Committee” ontstaan het om vir die regte van gay mense te veg, het hy ook agter die skerms gehelp vergaderings reël ten einde fondse in te samel om vir Adv. Dawid de Villiers (van Wêreldhof-faam) te kon kry om die saak namens die gay groep op te neem. Dit was donker tye waarvan die meeste van vandag se jongmense nie veel weet nie. Maar dit het ook meegehelp dat daar ‘n gevoel van samehorigheid onder gay mense ontstaan het. In die sestigs van die vorige eeu was daar ‘n landwye heksejag op gay mense. Die NG Kerk het dit openlik gesteun.  Die polisie het snags by huise ingebars om te sien wie is dalk saam met wie in die bed. Baie mense se professionele en persoonlike lewens is hierdeur verwoes en verskeie selfmoorde het direk met hierdie heksejag verband gehou. Al kon die polisie na afloop van die saak nie meer na willekeur deure oopskop om te sien wat volwasse mense in die privaatheid van hulle eie slaapkamers doen nie, het die verdoeming van gay mense deur die Afrikaanse kerke in hierdie proses nog sterker op die voorgrond getree.

 

Jean hou eers op met praat en skink vir ons nog koffie in. Hy vertel verder dat hy daardie tyd al besef het dat dit vir hom geen doel gaan dien om sy verbittering teen die kerk te vertroetel nie. Hy het gevoel dat dit baie meer sin sou maak om sy kennis en ervaring van gay-wees met mense te deel. Op so ‘n manier dat dit vir hulle hoop sal gee en dat dit vir hulle wat dieselfde pad moet loop, dinge makliker sal maak. Vir hom was die tyd vir stilbly of agter skuilname wegkruip ter wille van professionele selfbehoud, verby.

 

Een van die gebeurtenisse in Jean se lewe wat hy as ‘n besondere voorreg beskou, is sy insluiting by die Algemene Sinode van die NG Kerk se Taakspan oor Homoseksualiteit. Hy is van mening dat hy daar reeds die afgelope jare ‘n beduidende bydrae namens alle gay Christene kon maak. Iets wat vir hom ook na aan die hart lê, is dat hy betrokke kan wees by IAM (Inclusive & Affirming Ministries). IAM is ‘n interkerklike organisasie wat berading aan gay mense gee, maar hulle ook beywer om leiding aan hoofstroomkerke te bied om meer inklusief te raak.

 

Hy is van mening dat daar nie net ‘n behoefte aan gemeenskaps-opvoeding en terapeutiese ondersteuning is nie. Daar is ook veral ‘n behoefte aan openlike rolmodelle in die gemeenskap. Wanpersepsies oor gay mense sal vir ewig voortduur as gewone gay mense in die kas bly en toelaat dat die samelewing net blootstelling kry aan ekstremiste. Gay mense wat sukses behaal het in verskillende fasette van die lewe, het ‘n maatskaplike verantwoordelikheid om persepsies te beïnvloed, nie net deur wat hulle sê of skryf nie, maar ook deur wie en wat hulle is.

 

Terwyl die naklank van sy woorde nog in die lug draal, kom mens tot die gevolgtrekking dat dit die woorde is van ‘n man wat weet waarvan hy praat. Maar ook ‘n man wie se pad hierheen nie sonder steiltes was nie. Omdat hy die steiltes verbete uitgeklim het, is hy self ‘n ware rolmodel!

 

 

 

Jean beskik oor ‘n baie indrukwekkende CV, maar ek haal net sy akademiese kwalifikasies hier aan.

 

1966:  BA in Sielkunde (US)

1967:  Nagraadse Onderwysdiploma (US)

1968:  Honneurs BA Sielkunde (US)

1975:  MA in Kliniese Sielkunde (US)

1991:  PHD in Opvoedkundige Sielkunde en Ortopedagogiek (US)

 

 

Na Pieter Roussouw se kommentaar op hierdie inskrywing oor Danie en Jean, het Lidia Theron by hulle gaan aanklop en hulle verder gepols oor hulle verhouding.  Ons plaas Danie en Jean se kommentaar hier:

 

Liewe Lidia

 

Dankie, vir die stukkie kommentaar van Pieter Rossouw. Toe ek vir Danie vra “hoekom werk ons verhouding?”, was sy reaksie dadelik “omdat ons so verskillend is.”  Ek sou natuurlik verkies het dat hy moes sê “omdat ons so lief vir mekaar is” maar miskien is dit vanselfsprekend.  Om nie net met iemand uit te hou nie, maar gelukkig saam te wees met iemand wat baie van jou verskil, verg soms hare op die tande, maar dit kan ook die lewe interessant maak.

 

Ons is wel baie verskillend. Ek is mal oor seelug en buite wees. Vir jare het ek berge geklim, aan langafstand fietstogte en –wedrenne deelgeneem en in enige seisoen in die see geswem.  Danie se motto is “van sit en staan, is lê nog die beste,”  hy is allergies vir oefening.  Hy leef hoofsaaklik by ‘n klavier of orrel, op ‘n verhoog of in sy eie kop, met minimale bewustheid van wat buite aangaan. Dit verg dat mens wedersyds ruimte moet toelaat vir verskillende aktiwiteite.

 

Terselfdertyd moet die balans behou word deur genoegsame wedersydse belangstelling in mekaar se aktiwiteite en loopbane.  Vir my is dit nie moeilik nie omdat ek tussen klaviere, orrels en viole grootgeword het.  Omdat ek my lewe lank in ‘n mate dislekties is, proeflees hy al my verslae en geskrifte en sodoende het hy al heelwat geleer van my werk.  Omdat ons in verskillende velde werk (musiek en neuro sielkunde) is daar geen moontlikheid van kompetisie of professionele jaloesie nie, eerder waardering en ondersteuning.

 

Ons hou al twee van kos en kosmaak, maar soms is dit makliker om ‘n slaapkamer te deel as ‘n kombuis.  Die een maak gedurig skoon en ruim op sodat die kombuis weer netjies is wanneer die kos gaar is.  Die ander een maak een dis en kry dit reg om die kombuis in die proses in ‘n oorlogsone te omskep.  Dit neem maar lank om te leer dat daar belangriker dinge in die lewe is as meel op die vloer of pampoenpitte in die wasbak.

 

As daar net verskille was, sou dit ook nie kon gewerk het nie. Ons kom uit soortgelyke huislike en sosio-kulturele agtergrond, wat aanpassing verge-maklik.  Ons weet hoe mekaar se koppe werk.  Op intellektuele en akademiese gebied is ons op dieselfde vlak, wat die moontlikheid skep vir sinvolle kommunikasie.  Seksuele promiskuïteit is natuurlik uit as ‘n mens ‘n verhouding wil laat slaag.  Die belangrikste bly egter wedersydse liefde, vriendskap en toewyding (commitment).

 

Groete

 

Jean en Danie

2 responses to “VORIGE PROFIELE

  1. Elize Lamprecht

    Dankie vir ‘n lekker-lees brief, Jean. Soos gewoonlik kan jy jouself so nommerpas uitdruk dat jy my trots maak om jou sus te wees. Ek is bly jou kosbare boek is nou hier beskikbaar vir almal wat dit wil lees.

    Jy en Danie is inderdaad rolmodelle van wat ‘n kwaliteit gay verhouding kan wees en ek en my kinders is trots op julle. Liefde.

  2. Thea Moller

    Jean, Dankie vir jou jare lange bydraes en kosbare voorbeeld wat jy en Danie nog steeds stel. Julle is so spesiaal vir my en ek is bevoorreg om julle as vriende te he.

    Dit is prysenswaardig dat jy jou boek beskikbaar gestel het op die internet. Ek hoop dit sal deur baie mense gelees word wat vrae het.

    Ek en Petra is voorwaar baie trots op julle.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s