DIE DEUR WORD OOPGEGOOI

Welkom terug!

 

‘n Paar veranderinge is aangebring aan ons vorige blog in die proses om die ruimte hier meer gebruikersvriendelik te maak, asook die instandhouding en opdatering daarvan te vergemaklik.

 

Een van die redes waarom ons ook hierdie oorskakeling moes doen, was om ons treffende nuwe logo te akkomodeer (Baie dankie Jana vir jou moeite hiermee!  Ons waardeer dit opreg!)

 

Ons nuwe logo versinnebeeld ’n vuur, asook ’n persoon wat opryk na Bo deur hom/haarself te wil verbeter – die vuur in jou liggaam en die vuur in jou gees:  WAAR LYF EN GEES ONTMOET | WHERE BODY AND SPIRIT MEET.

 

Daar is verder weggedoen met die verskeie onderafdelings (boeke, mense, ons lesers ens.) om ’n meer geïntegreerde geheel te skep en hierdie bydraes sal voortaan op die hoofblad gelewer word.

 

VuurKairos se eerste meditasie is aan die begin van Februarie geplaas.  Na vyf maande kyk ons met dankbaarheid terug oor hoe hierdie proses ons lewens verryk het.  Bykans 7200 besoekers het in hierdie vyf maande ons blog besoek, ’n stewige biblioteek van 23 oordenkings/meditasies is opgebou, en ons het sover moontlik ons oor op die grond gehou oor wat nuus aan betref.

 

Om die proses vorentoe te vergemaklik en vaartbelyn te maak, het ons vorige inskrywings vir argief-doeleindes in een dokument geplaas.  Kliek op die onderskeie titels om na daardie blad geneem te word:  VORIGE OORDENKINGS, VORIGE NUUSBERIGTE, VORIGE OPINIESTUKKE, VORIGE BOEKRESENSIES en VORIGE PROFIELE.

 

Ons sal ook graag wil sien dat ons lesers meer met ons kommunikeer en ons vertel wat in hulle lewens aangaan, en wat op hulle harte is.  Stuur met groot vrymoedigheid jou gebed na ons (jy kan dit annoniem doen sou jy dit so verkies):  ons brand saam met ander vir jou ’n devosiekers!  Gaan lees gerus PdL se gebed hier.  Raak ook gerus by die debat betrokke en lewer kommentaar op nuusgebeure.  Kontroversie is ontlok toe die Manifested Glory Ministries van die VSA onlangs ‘n video op YouTube geplaas het waar hulle ‘n demoniese uitdrywing gemaak het om van die “gay demoon” in ‘n jong seun ontslae te raak.  Die volledige artikel soos wat dit op CNN se webblad verskyn het, word hier geplaas.  Gee vir ons jou indrukke omtrent dié saak.  Alle kommentaar word gemodereer, en ons beleidsdokument daaroor, kan hier gelees word.

 

Met dié huisskoonmakery het ons e-pos adres verander na vuurkairos@live.com sodat dit nie meer vir ons nodig is om van webapplikasies gebruik te maak nie.  Teken asseblief hierdie verandering in jou adresboek aan.  E-pos wat na vuur@24.com gestuur word, sal ons wel nog vir ’n bepaalde tyd lank bereik.

 

Daar gebeur egter meer rondom VuurKairos as net die opdatering van die webblad. Ons het ook van meet af gesê dat ons saam met die projek wil groei en ontwikkel. Tot op datum het ons verskeie mense bygestaan deur middel van e-posse, persoonlike ontmoetings en telefoongesprekke. ’n Suksesvolle byeenkoms is ook gereël in Grootbrakrivier, en ons is dankbaar oor die vrugte wat dit daar afwerp. ‘n Gespreksgeleentheid word ook later in die Oos-Kaap beplan. Ons was selfs so bevoorreg om teologiestudente te kon toespreek.

Ons word bykans daagliks genader en gekonfronteer deur die seer van gay mense, die vraagstuk hoe om uit die kas te kom, hoe ouers dit moet/kan hanteer, verhoudings wat skipbreuk gelei het en ernstige vrae rondom Geloofskwessies. Ons glo dat hierdie roeping voor ons deur geplaas is om mense te probeer help en by te dra tot die normalisering van die lewens van gay mense. VuurKairos het ontwikkelingspotensiaal en ons kan dit slegs doen deur die ondersteuning van ons lesers en belanghebbendes.  Daarom vra ons julle om eienaarskap te neem van hierdie inisiatief en te help waar dit kan.

 

Met sy nuwe baadjie, is VuurKairos vars uit die kas.  Geniet hom, en ons hoor graag van julle.

Met dié dat die outjie weer so spoedig as moontlik sy deure wou oopgooi, maak ons verskoning as daar dalk ’n paar tegniese- en spelfoute deurgesluip het.  En hou moed!  Hy sal later weer kleur om die wange kry as hy net eers gewoond is aan die lig…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s